NewsSchools

Nories kies hul volgende leiergroep

Laerskool Krugersdorp-Noord het onlangs hul leiers ingehuldig en die hoof- en onderhoofleiers het verduidelik hoe hulle voel oor hul nuwe verantwoordelikhede.

Dit blyk dat 2021 reeds ‘n blink jaar vir Laerskool Krugersdorp-Noord en hul leerders sal wees as mens net na hul Graad 7-leiers kyk wat onlangs aangewys is.

Hoofdogter Mincke Mostert het verduidelik dat mens ‘n spesifieke tipe persoonlikheid moet hê om die mantel van leierskap oor ‘n hele skool se leerders op te neem.

“Jy moet die kinders reg kan behandel en mooi met hulle wees as hulle probleme het. Hulle kyk op na ons en ons moet ‘n goeie voorbeeld wees.” Mincke het genoem dat alhoewel sy stil voorkom by die skool en in die klaskamers, sy na skool baie besig en praterig is. Sy weet wel wanneer om stil te wees en te luister na haar onderwysers, en wanneer om beheer te neem oor ‘n situasie en met haar mede-Nories as ‘n leier te gesels.

Hoofseun JJ Basson is net mooi die teenoorgestelde en is altyd die eerste stem om gehoor te word op die skoolgronde.

Agter is Zak Vrey (onderhoofseun), JJ Basson (hoofseun) en Kian Liebenberg (onderhoofseun). Voor is Adia Coetzer (onderhoofdogter), Mincke Mostert (hoofdogter) en Isabella van der Walt (onderhoofdogter). Foto: Jaco Human.

Maar, JJ is altyd die vriendelikste een tussen al die leerders en is voortdurend gehoorsaam en toon respek teenoor sy onderwyser. Dis juis omdat hy so ‘n lewendige en behulpsame persoonlikheid het dat hy, glo hy, gekies is om die skool in 2021 te lei.

“Dit is die belangrikste om vriendelik te wees en om ander kinders te wys dat dit goed is om vriendelik te wees en hoe lekker skool kan wees,” het JJ vertel. “Hy werk al van Graad 1 af baie hard om hoofseun te word en het dit reguit gesê,” het departementshoof Quintin Botha vertel.

Onderhoofdogters Adia Coetzer en Isabella van der Walt was albei ekstaties toe hulle hoor dat die leiers verantwoordelik gaan wees om die jaar se sokkies te reël, en het beide gesê dit is waarna hulle die meeste uitsien.

Agter is Zak Vrey (onderhoofseun), JJ Basson (hoofseun) en Kian Liebenberg (onderhoofseun). Voor is Adia Coetzer (onderhoofdogter), Mincke Mostert (hoofdogter) en Isabella van der Walt (onderhoofdogter). Foto: Jaco Human.

Adia het laggend vertel dat sy ook uitsien om op die verhoog op stoele te sit in plaas van op die grond soos al die vorige jare. Isabella het vertel dat sy baie stil is maar alles insit in wat sy ook al doen, soos om harder atletiek te oefen as wat van haar verwag word. “Volgende jaar wil ek vir Mincke help met haar hoofdogterpligte,” het sy vertel.

Onderhoofseuns Zak Vrey en Kian Liebenberg het verduidelik dat hulle albei stil persoonlikhede het, hoofsaaklik omdat hulle so hard werk aan hul studies en baie insit in hul sport.

Zak het verduidelik, “Ek het baie soet gebly deur skool en respek gehad vir my onderwysers. Ek het gehelp waar ek kon en probeer om ‘n goeie vriend vir almal te wees.” Kian het gesê, “Ek het altyd baie hard gewerk en nooit ‘n inskrywing gekry nie. Volgende jaar wil ek nederig bly en so behulpsaam wees as moontlik.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button