NewsSchools

Elke kind is spesiaal, sommiges kort net ‘meer aandag’ – skool

Die span by Ambulanté Academy sê dat in baie gevalle is kinders nie bloot 'stout' nie. Hulle kort dalk net 'n bietjie meer aandag en dissipline.

Vir sommige kinders is dit moeiliker om te leer as vir ander. Deesdae kan hierdie kinders vinnig geïdentifiseer word as kinders met leerprobleme. Baie keer weet ouers nie hoe om so ‘n kind te help nie.

By die Ambulanté Academy werk hulle met hierdie kinders, en sê dat ‘n bietjie meer aandag en kleiner klasse soms wonders verrig.

Diana Bezuidenhout, die skoolhoof, het verduidelik dat hulle met kinders met verskillende tipes leerprobleme soos disleksie werk, maar die algemeenste aandagtekort-hiperaktiwiteitsversteuring (ATHV), of in Engels, attention deficit hyperactivity disorder (ADHD) is.

Volgens Nicolene Benadé, een van die eienaars van die skool, kom ATHV meer by seuns voor en kom dikwels eers in Graad 4 aan die lig. Die rede hiervoor is dat kinders in Graad 1 tot 3 besig is met aktiwiteite en nie noodwendig heeltyd hoef stil te sit, toetse te skryf of te konsentreer nie.

“By ons skool is almal spesiaal,” het Diana gesê en bygevoeg dat hulle aanpas by die manier wat vir die kind die maklikste is om te leer. Die klasse is kleiner, en as ‘n kind heeldag wil staan en werk, dan kan hy.

“Soms, as hulle ‘n bietjie te veel energie het, stuur ons hulle gou uit om dit op die trampolien te gaan uitspring,” het mede-eienaar Henk Benadé vriendelik verduidelik.

Hulle maak ook gebruik van digitale bronne soos video’s wat die kinders se aandag maklik trek en hou.

Henk het verduidelik dat tegnologie baie bydra tot ATHV en leerprobleme. Kinders word oorgestimuleer deur vandag se tegnologie, en daar is ook nie meer groot erwe waar hulle buite kan speel nie, dus spandeer hulle meer tyd voor die TV, rekenaar of met die selfoon.

Skoolhoof Diana Bezuidenhout, en die mede-eienaars van Ambulanté Academy, Nicolene en Henk Benadé. Foto: Natasha Pretorius.

Diana het vertel dat dit gewoonlik die ‘stout’ kinders is wat met ATHV gediagnoseer word en dat medikasie nie altyd nodig is nie. Soms kort hulle net aandag en dissipline.

By Ambulanté volg hulle die CAPS-sillabus en help kinders regdeur tot by matriek.

“Ons was eers ‘n remediërende skool maar het agtergekom dat die kinders weer verlore raak in die groot klasse,” het Henk gesê.

Dit beteken ook nie dat Ambulanté se kinders nie kan terugkeer na hoofstroomskole nie, en die span is baie trots daarop dat van hul leerders al terug gegaan het en baie goed gevaar het.

“Ons is die ondersteuningstelsel wat die kinders dra totdat hulle kan vlieg,” het Diana trots vertel.

Die skool het ook ‘n netwerk van kinderterapeute na wie hulle ouers kan verwys om die regte diagnose te kry. Hulle stel voor dat indien jy vermoed dat jou kind dalk sukkel, jy hom of haar in ‘n plek met kleiner klasse kan plaas en dan sal hulle jou help met die pad vorentoe.

Die span het ook die wêreld se respek vir onderwysers en sê dat klasse soms so groot is dat onderwysers nie die aandag kan gee wat kinders met leerprobleme nodig het nie.

“Dit is nooit te laat nie,” het Diana gesê en ouers aangeraai om hulp te kry as hulle vermoed dat hul kinders sukkel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button