Local newsNews

‘n Dag in die lewe van ‘n heroïenverslaafde – Deel 2

Deel 2 van die storie van 'n inwonende begunstigde verslaaf aan heroïen.

“Is dit *Joane wat ek by ‘n mediese sentrum se verkeerslig gesien het?” vra iemand my.

“Sy lyk verskriklik!”

Ek huil nie. Ek ween. Joane is terug op straat. Sy kan nie sonder heroïen leef nie. Sy loop met ‘n kierie want haar heup is gebreek, en sy is terug op straat.

“Ek moet haar gaan soek,” sê ek weke later vir *Octavia. Om te groet. Dit is menslik onmoontlik dat sy nog lank kan leef. Ek soek, maar ek kry haar nie. Ek ween.

Dan eendag op ‘n reënerige Sondag verander Joane se lewe vir ewig.

Abby het Joane al tevore by die verkeerslig in Randburg opgemerk. Hierdie reënerige Sondag besluit sy om te stop en vir Joane kos te koop.

“Kan ons vir my broer ook kos kry asseblief?” vra Joane.

“Of course we can,” stel die goedhartige fyn mensie met die baie tatoes haar gerus. Hulle koop twee hamburgers met chips en Coke.

*Abby vat haar na die plek toe waar haar broer, ook ‘n verslaafde, ook op straat wag. Hul skuiling is ‘n groot munisipale kragboks.

Op hierdie reënerige Sondag bring Joane vir haar broer ‘n hamburger, chips en ‘n Coke. Maar haar broer sal dit nooit eet nie. Dit is ‘n koue reënerige Sondagmiddag en haar broer is dood. Sy lewelose liggaam lê onder die dik kragkabels. Joane se lewe stort ineen.

Sy en haar broer het vir jare ‘n verhouding van toksiese medeafhanklikheid gehad. Haar fondament word op hierdie Sondagmiddag onder haar uitgeruk.

Maandagoggend laat weet Octavia my dat Joane by The Cradle of Hope se skuiling is. Ek is vroeg daar. Daar lê ‘n hopie mens met verskriklike sere aan haar bene.

Ek en *Franco gaan haar na ‘n staatshospitaal toe vat om te probeer hulp kry. Ons maak vir haar ‘n bed agter in my Honda Jazz. Dit is moeilik om haar te beweeg. Sy kan nie loop nie. Sy kan skaars staan. Ek tel haar voete op om haar in die kar in te help. Haar voete is sopnat en koud. Sy het natgereën, dink ek. Dan tref dit my kliphard – dit is nie nat van reën nie, haar kouse is deurdrenk met die etter wat uit haar wonde loop!

“Kry plastieksakke,” vra ek.

Ek sit haar voete in die sakke. Sy kreun van pyn. Watter pyn is die ergste wonder ek, maar vra niks. Haar lyf is stukkend. Haar gees is moeg. Haar stukkende hart het agtergebly in ‘n kragboks, iewers in Randburg.

Hierdie was ‘n keerpunt in Joane se lewe. Dit was ‘n lang pad. Sy is nou al drie jaar skoon van enige dwelms en werk tans by ‘n herstelsentrum.

Sy het vir *Roger ontmoet en saam doen hulle elke dag die volgende regte ding om dwelmvry te leef. Dit is lekker om hulle twee saam te sien, hulle hou mekaar sterk. Sy wag steeds byna tien jaar vir ‘n heupvervanging.

Joane is die rede hoekom mens nooit mense wat vasgevang is in verslawing mag afskryf nie. Daar is altyd hoop! Dit is ‘n klein deeltjie van die harde realiteit waarmee ons werk by The Cradle of Hope. Stories van hoop-loos wees. Stories wat ons harte uitruk. Maar ook stories van blydskap.
Hierdie is my eie weergawe van my persoonlike ervaring van ‘n stukkie van Joane se pad wat ek saam met haar gestap het, en dit word gedeel met haar toestemming.

Vir meer inligting oor The Cradle of Hope besoek hul webblad www.thecradleofhope.org of kontak Ronél by 072 823 3525 of per epos ronel@thecradleofhope.org.

*Skuilname

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button