Dié Krugersdorp-gemeenskap ken van hande vat en ‘n ding gedoen kry. Dit was weereens die geval op Saterdag 5 Maart toe ‘n groep inwoners die oggend hul randsnyers, oorpakke en vullissakke in die kar gelaai het om ‘n woes toegegroeide sypaadjie in hul dorp aan te pak.
Krugersdorp-middedorp raadslid Mark Trump het vroeër in die week die Sektor 3 GPF gekontak nadat menige inwoners gekla het oor die lang gras op die sypaadjie by Onderstestraat, tussen 4de Straat en Third Street. Hierdie pad grens aan die agterkant van die onvoltooide taxistaanplek in die middedorp en ‘n reënwatersloot wat onderdeur die 4de Straat-brug loop.
Buiten die gras wat die stopteken toegegroei het en padgebruikers se sig van aankomende verkeer by die T-aansluiting belemmer het, is daar ook vullis, veral gebruikte babadoeke daar gestort.
Die flukse inwoners het die gras en bossies gesny, die boom op die hoek gesnoei, en die vullis so goed as moontlik verwyder.
Die ou Mogale-administrasie het kontrakteurs gehad wat die werk gedoen het, maar daar was te veel en dit het te veel gekos,” het Mark dié dag verduidelik. “
Hulle is uit ons oortrokke rekening betaal. Met die aangepaste begroting wat tydens Maandag, 28 Februarie se raadsvergadering goedgekeur is, kan ons mettertyd ons eie toerusting koop en die gebreektes regmaak.”
Maar, het Mark verduidelik, die gemeenskap moet vir eers probeer saamstaan en self inspring om hul woonareas op te kikker. Hy het verduidelik dat die ongeveer 40 inwoners wat die dag by die projek betrokke was hul eie gereedskap gebruik het en dat Sektor 3 GPF die brandstof verskaf het.

Wilma Nel, Sektor 3-sekretaris en kommunikasieverteenwoordiger vir die Krugersdorp GPF-kluster het vertel, “Mark het ons gekontak en gevra of ons sal help om Sektor 3 se gebiede skoon te maak waar die gras te lank is, en ons het dadelik ingestem.
Ons het dit op al ons publieke groepe geplaas, en ek glo die ondersteuning wat ons gekry het van die publiek was baie goed. Binne ‘n kwessie van twee dae het die mense gevra waar en hoe laat. Ek glo Sektor 3 se bystand was baie groot.”
Daar is ‘n groter skoonmaakprojek op die horison, en inwoners, raadslede, GPF-groepe, skole en ander organisasies beplan om op Saterdag, 12 Maart vir die Monument Dam dieselfde behandeling te gee.
