AfriForum se buurtwag in Krugersdorp, die gemeenskap en Dowry Security Solutions het saam met die polisie tog bewys dat hulle misdaad kan stuit.
Hulle het ‘n ernstige oortreder op parool, ‘n motorfietsdief en ‘n dwelmsmous in slegs 24 uur vasgetrek.
Martin Lombard, AfriForum se takvoorsitter in Krugersdorp het verduidelik dat hul buurtwag se hommeltuigspan op 28 Maart saam met Dowry Security Solutions gewerk het om ’n gesteelde motorfiets terug te vind en uiteindelik aan die eienaar terug te besorg.
“Die motorfiets behoort aan Debonairs,” het Lombard gesê.
In die tweede geval, op 29 Maart, het die buurtwag die plaaslike polisie gehelp om ’n dwelmsmous vas te trek.
Die inligting wat die buurtwag oor ’n tydperk ingesamel het is aan die taakspan oorhandig waarna daar ’n lasbrief bekom is om die perseel binne te gaan. Die verdagte is gearresteer vir handeldryf in gesteelde goedere sowel as die vermoedelike handel in en besit van dwelms. Die Dowry Security Solutions-span het ook hier aan die buurtwag en polisie hulp verleen.”
Lombard het so verduidelik hoe die persoon aangekeer is wat sy paroolvoorwaardes verbreek het.
“Die buurtwag het dit met behulp van die gemeenskap reggekry om dié gevonniste oortreder wat op parool was, weer vas te trek. Hy is voorheen skuldig bevind aan aanranding, roof en gewapende roof.
“Ons wil graag die span by Dowry Security Solutions bedank vir hulle bereidwilligheid om saam met AfriForum se buurtwag te werk om die gemeenskap te beveilig,” het Lombard afgesluit.
