Gewilde Kersmark deur Rant-en-Dal Prisma is hier!
Trek jou stapskoene aan, laai die kinders in die kar en bring jou beursie want dit is weer tyd vir vanjaar se Rant-en-Dal Prisma Kerk se Kersmark. Daar sal baie wees om te doen, te koop en te eet.

In 2022 het die Rant-en-Dal Prisma Kerk beslis beïndruk met hul besonderse plaas- en geskenkemark. Vir diegene wat uitgemis het is daar nou weer ‘n geleentheid om saam te kuier en sommer jou kerskouse ook vol te maak.
Vanjaar strek die Kersmark oor twee dae en kan jy nou al 3 en 4 November op die kalender omkring. Met 42 stalletjies is die kanse ook baie goed dat jy ietsie vir jouself en jou familie sal kry.

Speelgoed, parfuum, huisdekor, potplante, klere, konfyt en ander lekker gebottelde produkte, suikerkoekies, juwele, kersversierings en vele meer gaan te koop wees op die dag.
Die kerk spog ook met ‘n masjien wat elke 11 sekondes pannekoek produseer. Hy sal deurlopend aan die gang bly.

Op Vrydag, 3 November skop die feestelikhede om 12:00 af en sal daar deurlopend musiek gespeel word. Daar sal selfs kindervermaak wees wat springkastele insluit. Teen 20:00 sluit die hekke.
Die Saterdag is die hekke tussen 08:00 en 14:00 oop en die wenner van vanjaar se inkleurkompetisie vir laerskole sal ook aangekondig word. Nadat hulle ‘n indrukwekkende R120 000 ingesamel het in 2022 het hulle vanjaar ‘n mikpunt van R150 000 gestel.

Vanjaar het hulle ook iets nuut ingebring deur ‘n veiling (van skenkings) op hul nuwe Facebook-blad te hou. Besoek die blad en kliek op ‘like’ om te kyk of hulle iets adverteer waarvan jy hou en ‘n offer insit.

Hulle sal ‘n foto plaas van ‘n item met ‘n beskrywing, die openingsbod sal genoem word asook wanneer die veiling ten einde loop. Die wat belangstel kan dan ‘n aanbod in die kommentaar van die foto maak. Die persoon met die hoogste aanbod teen die afsnytyd word aanvaar.

Die kerk kan altyd doen met skenkings en as jy ‘n item het wat jy graag sal wil skenk vir die veiling, of op ‘n finansiële manier wil bydrae, selfs met kos wil uithelp, kan jy gerus vir Drienie Schutte of Jan by 011 665 2017 skakel.

Ongelukkig is daar nie meer plek vir stalletjies beskikbaar nie. Kaart-fasiliteite sal wel beskikbaar wees op die dag.
Sien jou by die jaar se Kersmark!

