Onwettige storting neem toe: Kabeldiewe ook meer bedrywig
’n Veld in Mindalore hou ’n groot gevaar vir die publiek in en allerlei kriminele aktiwiteite vind daar plaas.
Kabeldiefstal is ‘n groot probleem in Krugersdorp en een inwoner glo vas dat die lang gras in ‘n veld dit baie maklik maak vir misdadigers om weg te kom.
Inwoner Hennie Tolsma is bekommerd oor kriminele aktiwiteite in die veld oorkant Farrellstraat in Mindalore asook die onwettige storting wat daar plaasvind.
Tolsma het gesê weens die lang gras is dit makliker vir misdadigers om die kabels in die infrastruktuur oorkant die pad te teiken. Onwettige stortingsaktiwiteite kom ook gereeld voor en hy meen dit is weens die veld wat nie onderhou word nie.
Die Krugersdorp News het saam met Tolsma die veld besoek waar die gras en plantegroei omtrent heuphoogte staan. Hy sê as kabels in die nag gesteel word, kan die krimenele net in die veld lê en nie gesien word nie.

Daar was ook talle stortingshope waar selfs ‘n kalf in ‘n plastieksak gevind is, asook baie bourommel.
Verder in die veld het die News op ’n sogenaamde smeltgebied afgekom. Daar was kole, rubber wat reeds gesmelt het en metaaldrade waaruit vermoedelik koper gesteel is.
“Ek het die kwessie al verskeie kere by Mogale City Plaaslike Munisipaliteit (MCLM) aangemeld, maar hulle steur hulle nie aan die versoek nie,” het Tolsma gesê.
MCLM se kommunikasiebeampte Adrian Amod het wel erken dat onwettige storting in die stad onlangs toegeneem het weens die sluiting van die Luipaardsvlei-stortingsterrein, maar hy het bygevoeg dat sulke onwettige aktiwiteite algemeen was nog voor die sluiting van die stortingsterrein. Gekoppel hieraan is dit ook ontnugterend dat hoewel vullisverwydering voortgegaan het terwyl die stortingsterrein gesluit was, het inwoners voortgegaan om afval wyd te stort.

Amod erken ook lang gras in oop ruimtes is ideale wegkruipplekke vir misdadigers, waar die sny van gras misdaad op sekere tye kan afskrik, terwyl dit byvoorbeeld snags ’n toename in kriminele aktiwiteite veroorsaak, al is die gras kort.
“Soos vroeër aangedui, word storting aan die ander kant ook gedryf deur gerief, gebrek aan sorg vir ons omgewing, onwettige kommersiële bedrywighede, beperkte toepassing en strawwe vir storting,” het hy bygevoeg.
“Vandalisme en diefstal van munisipale infrastruktuur word ten sterkste deur die munisipaliteit veroordeel aangesien dit nie net baie duur is vir die munisipaliteit om gesteelde en gevandaliseerde toerusting te herstel nie, maar dit ook die verskaffing van ander noodsaaklike dienste raak, aangesien die toegekende begroting hertoegewys moet word vir noodherstelwerk en vervangingswerk. Misdaad vind na-ure in die donker plaas en maak dit onveilig, waar die munisipaliteit hierdie dade veroordeel. So ook doen die munisipaliteit voortdurend ‘n beroep op lede van die publiek om voorvalle van vandalisme by ons plaaslike polisie te rapporteer,” het Amod afgesluit.
Die News het drie keer na die Krugersdorp-polisiedienste uitgereik vir kommentaar, maar teen druktyd was nog niks verskaf nie.
