Raad vergader oor foutiewe munisipale rekeninge
Raadslid gee duidelikheid oor foutiewe munisipale rekening na vergadering met die munisipaliteit.
Nadat raadslede oorval is met navrae oor foutiewe munisipale rekeninge, wil raadslid Lourens Gouws graag duidelikheid en terugvoer aan inwoners gee.
Gouws het bevestig dat baie inwoners en besighede weer munisipale rekeninge ontvang het wat buitensporig en foutief was. Om hierdie rede is versoek dat die saak dringend op die agenda moet wees tydens ‘n raadsvergadering wat op 18 Februarie gehou is.
Die burgemeesterskomiteelid vir finansies het selfs ingestem en die saak is in diepte bespreek.
• Lees ook: Raadslede oorval met navrae van inwoners oor foutiewe munisipale rekeninge
Gouws het bygevoeg dat daar belangrike inligting is om met die publiek te deel. Dit sluit in:
• Die munisipaliteit het bevestig dat sommige rekeninge verkeerd is
• Regstellings sal teen 28 Februarie afgehandel wees
• Probleme spruit onder meer uit die oorskakeling van analoog- na digitale meters
• Lesings is oor ‘n tydperk van 35 tot 40 dae geneem, wat veroorsaak het dat sommige inwoners in hoër tariefblokke geplaas is vir elektrisiteitsverbruik
• Daar is ook ‘n agterstand met die verwerking van lesings en data
Hy sê inwoners met foutiewe rekeninge en navrae kan ’n e-pos stuur na Binang.monkwe@mogalecity.gov.za of alternatiewelik die munisipale kantore kom besoek waar daar personeel beskikbaar is om te help.
“Daar was ’n versoek dat hierdie dringende saak ook op die volgende raadsvergadering bespreek word sodat duidelikheid oor die pad vorentoe verkry kan word,” het Gouws afgesluit.
