Modelle trotseer die verkeer om fondse in te samel
'Hopelik het 'n groot borg ons raakgesien; ons kan moontlik meer van ons organisasies ondersteun' — 10-jarige skoonheid wat een van die drie was wat blikgeskud het in Krugersdorp-Noord.
Hulle is dalk klein van statuur maar hul harte het groot planne vir uitreikwerk in die dorp.
Op Saterdag, 27 Augustus het drie van die dorp se jong skoonheidskompetisiewenners – Lucy Welgemoed, 28, Stephnie A Botha, 17, en Azalea Hood, 10 – op die hoek van Cecil Knight- en Viljoenstraat in Krugersdorp-Noord met ‘n kroon op die kop en ‘n blik in die hand tussen voertuie deurbeweeg om fondse in te samel.
Hul gesamentlike opbrengs van dié poging was nagenoeg R2 000.
Die fondsinsameling is gedoen om modeluitgawes te dek en om moontlik groot skenkers te kry om ons liefdadigheidsorganisasies te ondersteun. Dit het vir my ook gegaan oor die ondervinding, spanwerk en iets om saam met ander skoonhede te geniet wat dieselfde doel het,” het Lucy verduidelik.
Azalea, ‘n Laerskool Krugersdorp-Noord-leerder, het bygevoeg, “Ek dink die dag was suksesvol want ek kon mense bewus maak van wat ons doen. Hopelik het ‘n groot borg ons raakgesien en dan kan ons moontlik meer van ons organisasies ondersteun.”
Stephnie, ‘n Graad 11-leerder van HTS N Diederichs THS het afgesluit deur die gemeenskap te vra om veral jong modelle te ondersteun. “Ons as die jeug is die toekoms en wil ‘n verskil maak. Dit gaan nie oor die krone en titels wat ons dra nie maar die doel.”
Vir die toekoms beplan Stephnie onder andere ‘n pretloop, liefdadigheidsveldtog en ‘n loting. Azalea, wat graag na bejaardes uitreik, wil graag kolwyntjies ten bate van Wings of Inspiration verkoop, terwyl Lucy ‘n boerie-verkoping wil aanbied, en klere asook niebederfbare items vir minderbevoorregtes wil insamel.
Mapogo A Mathamaga-sekuriteit was natuurlik byderhand om die jong dames veilig te hou.

