‘n Leeftyd en ‘n bietjie meer saam
"Ek is die rykste man in Suid-Afrika met die pragtigste vrou en die beste kinders, skoonkinders en kleinkinders."
Soos ‘n toneel uit ‘n romantiese film het die Badenhorsts mekaar op die trem ontmoet. Elke dag in die verbygang het hulle mekaar opgemerk en as dit nie vir Jan was wat die moed bymekaar geskraap het om met Stienie te gaan praat nie, was die twee dalk nie vandag 60 jaar getroud nie.

Op 27 Oktober sal die 81-jarige Stienie reeds vir 60 jaar getroud wees aan die 82-jarige Jan. Hy het vertel dat hy haar altyd raakgesien het as hulle saam trem gery het. Eendag het hy egter genoeg moed gehad en vir haar gevra of hy langs haar mag sit. Nadat die twee bietjie gesels het, het hulle toe ook ontdek dat beide vir verskillende banke in dieselfde gebou werk. Dit het etenstyd sommer baie beter gemaak en hulle het baie tyd saam begin spandeer.
Die paartjie was vir twee jaar saam en vir een jaar en ses maande verloof voordat hulle getrou het. Stienie se ma wou graag hê dat sy 21 moet wees voordat sy trou, so die twee was bereid om te wag.

Saam het die paartjie een seun en twee dogters, hulle het ook twee kleinseuns en vier kleindogters en Stienie het gehelp om na hulle almal te kyk voordat hulle skool toe gegaan het.
“Ek is die rykste man in Suid-Afrika met die pragtigste vrou en die beste kinders, skoonkinders en kleinkinders,” het Jan trots van sy familie gesê.
Stienie het vertel dat dit hulle kinders en kleinkinders is wat hulle aan die gang hou. Die paartjie het vir 31 jaar in Horison View gebly maar het 21 jaar gelede na hul meenthuis in Noordheuwel getrek.
Jan het al die jare vir die bank gewerk en Stienie was latere jare ‘n tandarts assistent.
Nou wat is dit wat mens vir 60 jaar bymekaaar hou?
“As jou vrou sê bly stil, dan doen jy dit maar,” het Jan grappend vertel en op ‘n ernstiger noot bygevoeg dat dit hul gesamentlike liefde vir Die Here en hul familie is wat hulle huwelik laat werk.
Stienie sê al wat jy nodig het is liefde en verdraagsaamheid maar beide erken dat hulle tog maar ook hul op en af tye gehad het deur die jare.
‘n Sestigste herdenking is beslis merkwaardig maar die paartjie deel die getal met nog familie. Hul dogter se skoonouers, Johnny en Emmie Tolmay is ook die jaar 60-jaar getroud terwyl hul seun se skoonouers, Dan en Wilma van der Merwe dié jaar hul 61ste vier.
