LifestyleLocal news

Pas ons dorp se kultuurskatte op

Die FAK het onlangs 'n skoonmaak aksie geloods om vir die gemeenskap te wys dat ons na ons kulturele skatte moet omsien.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se kultuurnetwerk het dit op hulself geneem om die geskiedenis en kultuur van Krugersdorp terug te keer na hul vorige glorie. Die eerste van hierdie projekte was die opknapping van die Paul Kruger Monument.

Freddie Hartman, ‘n verteenwoordiger van die FAK se Krugersdorp kultuurnetwerk, het verduidelik dat die aksie geloods is om Krugermaand (Oktobermaand) op ‘n skoon blad in te gaan.

Op Saterdag, 1 Oktober het ‘n klein groepie gemeenskapslede van die netwerk by die monument bymekaar gekom. Die span het die gras rondom die monument gesny, vuilgoed opgetel en die monument self ook terug gekeer na sy blink voorkoms.

“Ons erfenis is ons plig,” het Freddie gesê en bygevoeg dat dit die boodskap is wat hulle graag aan Krugersdorpers wou oordra.

Hy het bygevoeg dat, al het die projek op die oog af soos ‘n klein inisiatief van ‘n klein groepie mense gelyk, was dit tog van onskatbare waarde vir die dorp en sy mense.

“Ons het besluit om bietjie aan die begin van die maand bymekaar te kom, nie net om Paul Kruger se standbeeld mooi op te ruim en skoon te maak nie, maar om vir die mense van die dorp te wys dat mens met klein gebare ‘n groot verskil kan maak in ‘n dorp.”

Oud en jonk het saam gestaan tydens die skoonmaak en Freddie het vertel dat hulle ‘n daadwerklike poging aanwend om die kulturele skatte te bewaar, maar daar is steeds baie werk om te doen.

Barry Müller, die FAK se kultuurkoördineerder, het op sy beurt gesê hy is baie trots om te sien hoe die organisasie se kultuurnetwerke woeker in hul afsonderlike dorpe en veral om te sien hoe groot verskil hul werk maak.

“Mens is geneig om te dink dat dit groot groepe mense moet wees om ‘n verskil te maak, maar as ons kultuurnetwerke een ding bewys, is dit dat enige iemand ‘n verskil kan maak. Oud en jonk, groot en klein, as ons saamstaan kan ons ‘n groot verskil maak in ons gemeenskappe.”

Die volgende skoonmaak aksie is op Saterdag, 5 November om 10:00 by 25 Sarel Potgieterstraat in Krugersdorp. Bring julle tuingereedskap en skoonmaakgoed, swartsakke, harke, snoeiskêr, graaf, skroplap, besem en jou Afrikanertrots.

Klein Zayden Hardman het ingespring om sy pa Freddie te help.
Zayden Hardman wys hoeveel sakke vullis hul verwyder het.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button