Op haar vrywillige pos vir 30 jaar al
Tannie Koekie se hande staan vir niks verkeerd nie en is op 97-jarige ouderdom 'n voorbeeld vir ons almal.
Die 97-jarige Tannie Koekie Snyman hou al vir die afgelope 30 jaar vrywillig die kospotte aan die kook by die Krugersdorp Council for the Care of the Aged (KCCA).
Maar, dis nie al wat Tannie Koekie doen nie, sy sit ook glimlagte op mense se gesigte.
Op 13 Junie sal Tannie Koekie al vir drie dekades ‘n vrywilliger by dié organisasie wees en het die News vertel dat sy nie beplan om vinnig op te hou nie. Sy werk elke week van Maandag tot Vrydag in die kombuis en sorg dat 200 bejaardes elke dag ‘n warm bord kos kry.
Lees ook: Pharmacy interns give the elderly a health check-up
Sy vertel dat sy haar lewe lank al vrywillger werk doen. Sy is in Durban gebore en het later Bloemfontein toe verhuis waar sy vir meer as 20 jaar noodhulp as ‘n vrywilliger gedoen het. Sy was ook ‘n noodhulp lektor en het liggaamsoefeninge vir atlete aangebied. Sy was ook vir 18 jaar ‘n vrywillige noodhulpbeampte by die jaarlikse skou in Bloemfontein.
Toe sy Krugersdorp toe trek om nader aan haar familie te wees wou sy graag weer vrywilliger werk doen en het by die kerk gehoor van die KCCA. Aan die begin het hulle eers pannekoek gebak om geld in te samel vir die organisasie maar later het sy by die kombuis aangesluit om te help kos maak.
Lees ook: Dorp se bejaardes bly fiks danksy jukskei
Tannie Koekie het nie ‘n spesiale dis wat sy geniet om te maak nie en vertel dat sy maar net doen wat gedoen moet word. Toe die inperkings plaasgevind het was sy by die huis en vertel dat sy die Here gevra het om haar te help om weer haar weg te vind terug na die KCCA toe.
Toe sy haar werk terugkry het sy besluit om harder as ooit te werk. Sy het vertel dat sy die vriendelike gesigte vreeslik gemis het en dat dit haar hart warm gemaak het toe sy kon terug gaan.
“Ek neem geen medikasie nie, ek is fiks en gesond en elke dag op my pos,” het sy trots vertel.
Deur die jare was sy ook deel van die vorming van die KCCA se koor en noem dat hulle met ‘n mondfluitjie en ‘n tamboeryn eendag net begin musiek maak het, daarna het hulle ‘n afrigter gekry en meer mense het by die koor aangesluit. Die koor het aangegaan om kompetisies te wen.
Sy het selfs al in drie films verskyn as ‘n agtergrondspeler.
Tannie Koekie is beslis ‘n voorbeeld vir ons almal en word beskou as ‘n harde werker met ‘n goeie hart.