Local newsUpdate

Rant-en-Dal huisbrand: Teer herinneringe ook in brand vernietig

Magda Erasmus se spoghuis was een van dié wat tydens die Rant-en-Dal brande skade gekry het.

‘n Rampspoedige brand het een rustige Sondagoggend ‘n groot gedeelte van Magda Erasmus se lewe verwoes. Herinneringe van haar oorlede man asook erfstukke vir haar kinders lê in puin.

Magda en haar man het in 2007 na die spoghuis in Sparrow Cresent verhuis. Sy vertel dat hulle baie keer mense onthaal het in die kuierarea onder hul lapa wat ‘n snoekertafel en ‘n 12-sitplek borrelbad gehad het. By die uitkykpunt kon jy die hele Kloof sien. Vanaf die lapa kan mens deurloop na ‘n spogkroeg waar hulle ook baie gekuier het.

Hier het Magda Erasmus se spoglapa gestaan. Foto: Natasha Pretorius

Na haar man se afsterwe het Magda in die huis aangebly. Omdat sy ‘n staatspensioentrekker is het dit moeilik geraak om die massiewe huis te onderhou. Sy het agter geraak op haar grondbelasting en het al die afgelope agt maande nie krag by haar huis nie. Magda het so ‘n jaar gelede besluit om die huis in die mark te sit sodat sy vir haar ‘n kleiner en meer bekostigbare plek kon kry.

Die spogkroeg met al sy inhoud het ook gebrand. Foto: Natasha Pretorius

Die finansies is maar knap en Magda moes ook noodgedwonge haar versekering laat vaar.

• Lees ook: Rant-en-Dal fires: A community comes together

Op 8 Oktober het sy wakker geword en rook deur haar kamer venster gesien. Sy het op die plaaslike groepe gevra oor die rook en uitgevind dat dit ‘n veldbrand is. Deur die loop van die oggend het sy haar oog op die rook gehou, maar teen 11:00 hoor sy toe die vuur buite haar huis knetter. Sy het buitentoe gehardloop en haar buurman gewaar, hy het haar laat weet dat hy sy drukpomp gaan gebruik om hul lapas en hul huise voor nat te maak. Sy moes ook die onderkant van haar lapa met die tuinslang natspuit, maar sy kon nie so ver kom nie.

Die vensters het gebars van die hitte. Foto: Natasha Pretorius

Sy het vlamme aan die onderkant van die erf oor haar sesvoet muur sien steek en gehardloop om haar hond wat in die onderste deel van die erf was, te gaan haal.

“Sy was te swaar vir my om self oor te tel en mense het gestop en my gehelp om haar oor te tel. Hulle het haar in hul kar gelaai en toe moes ek terughardloop vir die ander twee honde aan die bokant van die erf,” het sy verduidelik.

Sy het tot by die glasdeure gekom wat na die erf lei en sy het die honde daar sien staan, maar haar lapa was reeds besig om af te brand. Die vlamme was tot teen die huis.

Sy het die ander twee honde in haar voertuig gelaai en teruggehardloop vir haar kat. Sy noem daar was ongelukkig nie meer tyd om terug te gaan vir enige iets anders nie. Dit was die laaste wat sy haar huis gesien het totdat sy die Maandagoggend weer daar ingestap het.

Magda Erasmus se kroeg na die brand. Foto: Natasha Pretorius

“Almal was baie besorgd en behulpsaam. Ek haal my hoed af vir almal wat van orals af gekom het.”

• Read the initial article here: Kloof fire leaves devastation in its path

Van die snoekertafel in die lapa het niks oorgebly nie en haar man se wildstrofeë het ook gebrand, asook ‘n stel olifant tande wat sy graag wou verkoop. Die skuifdeure en vensters het óf gebars óf gekraak en die geyser met sy koperpype het weggesmelt. Van haar glastafel het niks oorgebly nie en Magda vermoed die glas het gebreek. Die res het gesmelt.

Magda Ersamus se man se jagtrofeë het ook gebrand. Foto: Natasha Pretorius

Skade beloop na raming so ongeveer R1.5m, volgens Magda.

Maar die was nie net haar huis nie, dit was herinneringe van haar lewe saam haar man, die besittings wat sy eendag aan haar kinders wou oorlaat en die huis wat sy wou verkoop om weer op die been te kom.

Die dak van die kroeg het ingeval na die brand. Foto: Natasha Pretorius

Magda sê sy weet nie watter kant toe nie en vir nou ruim sy maar op so goed sy kan. Sy het vertel sy kort net hulp om die struktuur van die huis reg te maak soos die deure en vensters, ‘n dak, en die elektriese bedrading. Sy wil net weer kan veilig slaap.

Magda Erasmus se wyn versameling het ook gesneuwel. Foto: Natasha Pretorius

Indien jy wil uitreik na Magda skakel haar gerus by 082 573 7746.

Die deur na die gaste toilet na die brand. Foto: Natasha Pretorius

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button