Skoonouers se pyn na kapers in hul voertuig vasry
Maande na die Volschenks in 'n botsing met kapers wat van die polisie probeer wegjaag het betrokke was, lewe hulle steeds in pyn en smeek hul skoondogter die gemeenskap vir hulp.
‘n Jaagtog tussen polisie en kapers in Januarie het die Volschenk-familie se lewe onherroeplik verander.
Dit is maande later en nie veel het verander nie, inteendel, die 34-jarige Zonica Volschenk het vertel sy is raadop omdat hul steeds sukkel om mediese hulp vir haar skoonouers te kry.
• Read the initial article here: Criminals crash car in reported hijacking gone wrong
Omstreeks 11:00 op 31 Januarie was Zonicka, haar man en haar skoonouers (die 64-jarige Rachel Volschenk en 67-jarige Johannes Volschenk) op pad huis toe toe ‘n Hyundai Tucson van voor in hul vasgery.


Die insittendes van die einste Tucson was besig om vir die polisie weg te jaag nadat hulle ‘n voertuig gekaap en ‘n 44-jarige man in Kempton Park ontvoer het. Hulle was deur die Kimberley-polisie se taktiese reaksiespan nagesit nadat die reaksiespan informasie ontvang het van ‘n man wat op die agtersitplek van die voertuig vasgebind is.
Zonica en albei haar skoonouers het ernstige beserings opgedoen tydens die botsing.
Gelukkig het Zonica ‘n mediese fonds, maar beide haar skoonouers is nie so gelukkig nie. Hulle is albei pensioenarisse en afhanklik van staatshospitale, dus is hulle in ‘n staatshospitaal in Krugersdorp opgeneem.
“Tydens ondersoek by die hospitaal was dit bepaal dat my skoonma ‘n gebreekte regterheup en ontsluite regter sleutelbeen opgedoen het. My skoonpa het ‘n gebreekte regter heup en vergrysde regter knieg gehad.”
Rachel het sewe weke in traksie gelê en is daarna ontslaan, sy is deur Zonica ingelig dat sy op die waglys geplaas is om ‘n heupvervanging te kry. Na ses weke in die hospitaal kon Johannes uiteindelik ‘n heup herkonstruksie ondergaan, maar dit was ongelukkig nie suksesvol nie.
“Hy is huis toe gestuur om die wond op sy heup kans te gee om te herstel.”
In Junie is hy in ‘n ander staatshospitaal in Krugersdorp opgeneem en daarna oorgeskuif na Helen Joseph Hospitaal toe waar hy ‘n heup- en knievervanging sou kry.
“Ongelukkig is dit nie wat gebeur het nie. Hul het net weer die heup herkonstruksie gedoen, maar slegs halfpad gekom toe hul agterkom dat daar ‘n abses ontwikkel het in die heup. Hy was toe vir ‘n verdere ses weke op behandeling geplaas vir ‘n virus wat hy opgetel het wat in sy beenstruktuur versprei het.”

Hy is weer ontslaan om by die huis te gaan aansterk.
“Sederdiend die ontslag, het ons uitgevind dat die staat se mediese fonds bankrot is en dat daar nie fondse is om die parte aan te koop wat benodig word om die operasies uit te voer nie.”
Zonica het vertel dat sy verstaan nie, want dis nie net haar skoonouers wat hierdeur geraak word nie, maar dat sy nou al moeg raak vir die verskonings oor hoekom haar skoonouers se operasies nog nie kon plaasvind nie.
“Die stories het al gestrek van die hospitaal wat tot kapasiteit vol is en so ook die trauma en intensiewesorgeenheid-kamers, en dat die personeel staak. Die jongste is dat die dokters eweskielik besluit het dat hy [my skoonpa] te oud is om die operasies [wat drie maande gelede nie ‘n probleem was nie] te ondergaan.”
Haar skoonma is egter in Julie na ‘n opvolg ondersoek ingelig dat hulle haar sal laat weet wanneer sy moet kom vir haar operasie. Drie maande later toe die familie navraag doen is daar vir hulle vertel dit is nie die hospitaal se verantwoordelikheid is om pasiënte terug te skakel nie en dat sy navraag moet doen om die operasie te reël.

Nege maande na die ongeluk is die Volscheck-egpaar erger af as ooit. Zonica se skoonma is rolstoelgebonde en haar skoonpa is nou bedlêend.
“Dit is nou bevestig dat albei my skoonouers se heupe begin verkrummel het weens die skade en dat daar nog niks gedoen is om dit te herstel nie.”
Na die ongeluk kan Zonica self nie werk met die beserings wat sy opgedoen het nie en kan haar man nie finansieel twee huishoudings onderhou nie.
“Ek dra dus my skoonouers op aan die genade van die Here en vra vir hulp indien daar ‘n barmhartige Samaritaan daar buite is of iemand wat ons kan raad gee.”
• Navrae: Indien u wil uitreik na Zonica kan u ‘n e-pos na zkvolschenk89@gmail.com stuur.
