Local news

Vrouemaand: Besigheidsvrou Tania deel haar geheime

Tania Löhrke Pheiffer, 'n suksesvolle besigheidsvrou, vertel van haar sukses en wat Vrouemaand vir haar beteken.

Tania Löhrke Pheiffer (43) is ‘n suksesvolle sakevrou van Krugersdorp en deel inspirerende raad aan vroue vir Vrouemaand met die Krugersdorp News.

Tania is ‘n enkelma van twee kinders en eienaar van Woodlands Healing Spa in Muldersdrift. Sy is passievol oor gesondheid, welstand en die krag van holistiese genesing.

“My sukses in die besigheidswêreld kom deur harde werk, deursettingsvermoë en ‘n diep geloof in die waarde van wat ek aanbied. Ek streef daarna om mense te help om hulself te vind en te genees,” sê Tania.

Sy sê dat sy sukses behaal het deur ‘n kombinasie van vasberadenheid, kreatiwiteit en die ondersteuning van ‘n wonderlike span en glo in die krag van ‘n sterk visie en die moed om nuwe dinge aan te pak.

“Ek is al vir amper 20 jaar in die besigheidswêreld betrokke. Voor ek Woodlands Healing Spa oorgeneem het, het ek my eie salon gehad. Die jare van ervaring het my voorberei om ‘n unieke genesingservaring by Woodlands aan te bied,” vertel sy.

Sy sê die struikelblokke wat sy as vrou in die sakewêreld vind, is stereotipes en die uitdaging om ’n balans tussen werk en gesin te vind en verg dikwels ekstra moeite om haar geloofwaardigheid te vestig.

“Om kinders te hê het ook ‘n invloed op my vrouwees. Dit leer my geduld, empatie en die belangrikheid van ‘n gesonde werk-lewe-balans. Dit motiveer my ook om ‘n rolmodel vir my kinders te wees,” het sy bygevoeg.

Sy sê dat sy haar vrye tyd spandeer aan lees, skryf, skilder en tyd saam met haar familie en vriende spandeer en sy vind vreugde in eenvoudige maar betekenisvolle aktiwiteite.

“My belangrikste beginsels as vrou sluit respek, deernis en integriteit in. Ek glo dat ons deur ons optrede en keuses ‘n positiewe verskil in die wêreld kan maak. Vrouemaand is ‘n viering van die krag, moed en veerkragtigheid van vroue. Dit is ’n herinnering dat ons enigiets kan bereik as ons mekaar ondersteun en saamwerk. Vroue is die ruggraat van ons gemeenskap en verdien erkenning en respek,” het sy afgesluit.

Back to top button