Die potte prut en trane loop tydens kroeg se potjiekompetisie
Plaaslike potjiekoskompetisie bring gemeenskap bymekaar waar pryswenners hul prysgelde vir 'n goeie doel skenk.

Vleis in die pot, sonbrand op die rug en ‘n dop in die hand is al wat die braaimeesters benodig het vir ‘n potjiekompetisie wat nog lank by Hero’s Pub and Grill op 8 Februarie onthou sal word.
Eienaar van die kroeg, Lourens Gouws, het gesê hulle het 10 deelnemers gehad.
• Lees ook: Grandfather grateful for donations as injured grandson fights for his life
Die Krugersdorp News het die geleentheid as beoordelaar bygewoon waar daar ‘n groot verskeidenheid potjies was – van skaapvleis tot beesvleis en selfs ‘n afvalpotjie. Deelnemers het vir ure in die son gesit om hul geheime resepte te deel en indrukwekkende potte gaar te maak.

Die eerste prys was R2 000 kontant, die tweede ‘n R1 000 kroegkrediet en derde ‘n mandjie vol verrassings.
• Lees ook: Community rallies behind motorcyclist seriously injured in crash
“Ons het ook besluit om ‘n fondsinsameling te hou vir Jason Jordaan [die jong man wat ernstige beserings tydens ‘n motorfietsongeluk opgedoen het] se mediese koste. Besoekers kon ook lootjiekaartjies koop om tot dieselfde saak by te dra,” het hy gesê.

Aan die einde van die dag het die beoordelaars al 10 potte geproe waar Wian Harding en Brandon Kruger se skaappotjie as die wenners aangewys is.

Die pryswenners het wel besluit om hul pryse aan Jason se ouma en oupa, Jorrie en Julie Jordaan, te skenk.
Baie mense het op daardie oomblik ‘n traan gepink en Jorrie het tot die gevolgtrekking gekom dat woorde nie hul dankbaarheid kan beskryf nie.