‘Onderwys was net goed vir my en my man’
Marlene Calitz, onderwyser by Curamus School for Autism, groet haar geliefde skool en gaan nou haar aftrede saam met haar man, die voormalige hoof van Monnas, geniet.
Elf jaar nadat sy begin skoolhou het vir outistiese leerders by die Curamus School for Autism, is Marlene Calitz op pad om haar aftreejare saam met haar man, Johann Calitz, voormalige skoolhoof van Monnas, te geniet.
• Lees ook: Totsiens Monnas, totsiens K’dorp – skoolhoof Johann Calitz
Marlene vertel dat sy reeds in 1986 in die Vrystaat begin skoolhou het. In 1989 is sy en Johann getroud. Van daar af het hulle regoor die land getrek en op verskeie plekke onderrig gegee totdat hulle hulself in 2013 in Krugersdorp gevestig het.
Johann het toe as skoolhoof by Monnas begin, terwyl Marlene by Curamus skoolgegee het.
“My man was skoolhoof in Nylstroom, waar ek ook vir hoërskoolkinders klas gegee het.
Ek dink nie dit is ‘n goeie idee om saam met jou man te werk nie,” sê sy laggend.
Aanvanklik was sy gewoond aan hoërskoolleerders, maar sy het vinnig by outistiese kinders aangepas.
“Ek geniet dit meer om vir hulle skool te gee. Outistiese leerders kruip in jou hart in. Die kleintjies is so opreg en reguit,” vertel sy.
Sy voeg by dat haar laaste dag op 28 Maart was.
“Dit was ‘n vreeslike emosionele dag vir my, asook vir die leerders. Hulle het ‘n tonnel in die gang gemaak en blomme vasgehou.
Ek het gehuil, en die leerders ook – selfs al het nie almal verstaan nie,” sê sy.
Volgens Marlene was haar beroep soms uitdagend, maar dit het haar tog blydskap gebring en sy het gevoel asof sy werklik ‘n verskil gemaak het.
Sy weet nog nie presies wat haar aftreeplanne is wanneer hulle kus toe trek nie, maar sy sien uit daarna. Haar dogter woon reeds daar, en sy en Johann geniet dit om rond te ry en nuwe plekke te verken.
“Onderwys was goed vir my en my man. Ek moedig jongmense aan om spesiale onderwys te oorweeg – dit is werklik die moeite werd,” sluit sy af.
