Klein vlooimark by Paul Krugersaal maak groot verskil
Die Krugersdorp-Wes gemeenskap het bymekaargekom vir 'n vlooimark met die doel om minderbevoorregte kinders se onderwys by te staan.
Jy weet nooit watter klein skatte jy dalk by ’n vlooimark kan ontdek nie en die Krugersdorp-Wes-gemeenskap het onlangs vir dié rede bymekaargekom, asook om fondse vir minderbevoorregtes in te samel.
• Also read: Paul Kruger Hall’s facelift finally complete
Die vlooimark het op 26 April by die Paul Krugersaal plaasgevind en is deur die Heart and Soul Foundation en Ohana Family Support aangebied.

Markorganiseerders Hester Foxcroft en Pieter Marè het gesê belangstellendes kon ‘n stalletjie bespreek en items insluitend hul eie handgemaakte goedere, kos en tuisgebak verkoop om ‘n ekstra inkomste te verdien.
“Die doel van die mark was grootliks om fondse in te samel vir die Happy Haven Kleuterskool wat onder die Heart and Soul Foundation funksioneer.
Die skool is geleë op die perseel van die Paul Krugersaal en bied gratis onderrig aan minderbevoorregte voorskoolse kinders. Die uitstallers het dus skenkings gemaak met hul wins,” het hulle gesê.
Hulle het bygevoeg dat daar deur die loop van die dag sowat 300 mense op die terrein was, waar hulle ook fondse ingesamel het vir hul voedingskema vir haweloses.

“Ons moedig almal aan om dit by te woon en ‘n stalletjie te bespreek, alhoewel die eerste een klein was, het almal wat stalletjies beman het reeds aangedui dat hulle op 31 Mei terug sal wees so dit gaan ‘n groot dag wees.”
Indien iemand enige navrae het oor die volgende vlooimark op 31 Mei, kontak Hester by 069 525 2820.

