Die Spekboom – klein plant met ’n groot impak
Die nuwe Boombewus-reeks stel inwoners bekend aan verskeie bome, met die veelsydige Spekboom wat die eerste in die kollig is.
Met die onlangse stigting van die Wieg van die Mensdom-tak van die Dendrologiese Vereniging van Suid-Afrika, het die Krugersdorp News dit goed gedink om saam die vereniging ‘n boombewus-reeks te loods.
• Lees ook: Boomliefhebbers verenig om erfenis te bewaar
Die doel van hierdie reeks is om inwoners ’n breër kennis van verskeie boomspesies te bied, asook praktiese raad oor die versiering van tuine en die regte maniere om bome aan te plant en te versorg. In die eerste uitgawe fokus Boombewus op die Spekboom.
Deon van Rensburg, voorsitter van die tak, verduidelik dat die Spekboom (Portulacaria afra) ’n inheemse sukkulent is wat hoofsaaklik in die Oos-Kaap voorkom.
“Dit is ’n veelsydige, vinnig-groeiende plant wat veral bekend is vir sy uitsonderlike vermoë om koolstofdioksied te absorbeer – tot 10 keer meer doeltreffend as tropiese reënwoude. Die Spekboom is droogtebestand, eetbaar met ’n suurlemoenagtige smaak, het medisinale waarde en kan maklik via steggies vermeerder word,” het Deon gesê.
Hy som die belangrikste kenmerkende voordele soos volg op:
• Ekologiese waarde: Een hektaar Spekboom kan sowat 4.2 ton koolstofdioksied per jaar omskakel, wat ’n beduidende rol speel in die bekamping van klimaatsverandering.
• Inheemse habitat: Hierdie plant is inheems aan Suid-Afrika, veral die Oos-Kaap en dele van die Wes-Kaap, waar dit in subtropiese ruigteveld groei.
• Voedselbron: Die blare is eetbaar, ryk aan vitamien C en het ’n suur smaak. Dit dien as voedselbron vir olifante, buffels en ander wild.
• Tuin- en hekaanwending: Die Spekboom maak uitstekende heinings, kan as bonsai gevorm word, of in rotstuine gebruik word.
• Maklike versorging: Dit vereis min water, is bestand teen hitte, en groei maklik uit steggies wat eenvoudig in die grond geplaas word.
• Medisinaal: Die blare word tradisioneel gebruik vir die behandeling van sere, insekbyte en seer kele.
“Spekboom staan ook bekend as olifantskos of ‘pork bush’ en kan tot 200 jaar oud word,” het hy bygevoeg.
In die volgende uitgawe van die Boombewus-reeks sal daar in diepte aangedui word hoe om ’n Spekboom suksesvol te plant en te versorg.
