Kersfees in Julie bring vreugde na Golden Age Village
Die Vroue- en Veteranefonds het sowat 100 bejaardes bederf met geskenke, musiek en waardevolle kameraadskap.
Die bejaarde gemeenskap het Kersfees vanjaar vroeg gevier toe die Vroue- en Veteranefonds (VVF) op 22 Julie ‘n Kersfees in Julie-geleentheid by Golden Age Village aangebied het.
Volgens die VVF se hoof uitvoerende beampte, Elizabeth Bouwer, het die program ‘n Skriflesing, verwelkoming, ‘n motiveringspraatjie, geskenke en ‘n optrede deur Nic Stevens ingesluit.
“Ons bied hierdie geleenthede landswyd aan en bereik jaarliks ongeveer 3 740 bejaardes. Hulle sien só daarna uit dat sommige ons selfs bel om uit te vind wanneer dit plaasvind,” het sy gesê.
Elizabeth het verduidelik dat die organisasie dit geniet om met bejaardes te werk en dat die doel van die dag veel verder strek as net ‘n gesellige byeenkoms.
“Die sosiale aspek hiervan is uiters belangrik vir bejaardes. Geleenthede soos dié gee eensame mense die geleentheid om nuwe vriende te maak en help ons ook om probleme te identifiseer,” het sy verduidelik.
Sowat 100 bejaardes van regoor die dorp het die geleentheid bygewoon. Volgens Elizabeth was daar bekende sowel as nuwe gesigte.
“Op hul ouderdom is kameraadskap van onskatbare waarde. Al bereik ons net twee mense, is die dag die moeite werd.”
Sy het bygevoeg dat die hoogtepunt van die dag was om te sien hoe die bejaardes hul sorge vir ‘n rukkie kon vergeet, saam kuier en nuwe vriende maak.
“Dit help hulle om hul menswaardigheid te besef,” het sy afgesluit.


