Wes-Rand Parabats versterk bande en eer hul nalatenskap
Die Wes-Rand Canopy hou die broederskap van Suid-Afrika se voormalige valskermsoldate lewendig en wil ook hul betrokkenheid in die gemeenskap uitbrei.
Die Parabat Veterane Organisasie se Wes-Rand Canopy het onlangs hul maandelikse byeenkoms saam met die Moth-klub in Krugersdorp gehou – ’n geleentheid wat nie net ou herinneringe laat herleef het nie, maar ook hul verbintenis tot kameraadskap en gemeenskapsbetrokkenheid beklemtoon het.
Volgens die canopy se sekretaris, Amanda Morris, het die byeenkoms op 11 Julie plaasgevind en is dit gekombineer met die Moth-klub se maandelikse vergadering.
“Dit was ’n dag van pure samehorigheid, gevier met ’n lekker kuier om die braaivleisvuur waar die ou makkers staaltjies uitgeruil en die ewige broederskap hernu het,” het sy gesê.
Die groep het ook hul nuwe gazebo vir die eerste keer by die Moth-klub opgeslaan.
Volgens Amanda simboliseer dit die begin van die Wes-Rand Canopy se groter betrokkenheid by plaaslike gemeenskaps- en veteraanprojekte.

‘n Leeftyd van broederskap
Die Wes-Rand Canopy vorm deel van die Parabat Veterane Organisasie, wat voormalige lede van Suid-Afrika se valskermbataljons byeenbring.
Volgens Amanda is die naam Parabat afgelei van die Engelse woorde parachute en battalion en verwys dit na die voormalige valskermsoldate van die Suid-Afrikaanse Leër.
Die eerste valskermbataljon is in 1961 in Bloemfontein gestig. Lede het streng keurings- en opleidingsprosesse deurloop voordat hulle die kenmerkende maroen beret en valskermvlerkies kon verdien.
Gedurende die Grensoorlog is die eenheid wyd ontplooi, terwyl hulle ná 1994 ook aan verskeie vredesendings op die Afrika-kontinent deelgeneem het.

Die nalatenskap leef voort
Amanda vertel dat ’n groep oud-Parabats in 2014 besluit het om ’n formele organisasie te stig waar veterane gereeld kan ontmoet, hul gedeelde geskiedenis kan bewaar en mekaar kan ondersteun.
“Daar was ’n sterk gevoel dat meer gedoen moet word om te verseker dat die nalatenskap van 1 Valskermbataljon gerespekteer, geëer en beskerm word,” het sy gesê.
Die Wes-Rand Canopy is later dieselfde jaar gestig en was een van die eerste streektakke van die organisasie.
Sedertdien het soortgelyke canopies landswyd ontstaan, wat uiteindelik gelei het tot die stigting van die nasionale Parabat Veterans Organisation in 2015.
Sy het genoem dat enige voormalige Parabat wat by die Wes-Rand Canopy betrokke wil raak, die voorsitter Gerhard Kotze by 083 608 0876 kan kontak.
