Skenkings bring glimlagte na Moria Ouetehuis
’n Plaaslike regsfirma het bejaardes bederf met verskeie benodighede as deel van hul Mandela-dag-inisiatief.
Dykes van Heerden Prokureurs het vanjaar Mandela-dag gevier deur noodsaaklike skenkings aan die bejaarde inwoners van Moria Ouetehuis te oorhandig.
Die regsfirma het op 18 Julie verskeie benodigdhede aan die tehuis geskenk. Volgens die firma se persoonlike assistent, Elni Janse van Vuuren, het die skenkings toiletware, sjampoe, lyfroom, skoonmaakmiddels, snesies en naelversorgingstelletjies ingesluit.
“Ons hou elke jaar iets vir Mandela-dag en ondersteun verskillende organisasies om iets aan die gemeenskap terug te gee,” vertel sy.
Sy sê een van die hoogtepunte van die dag was die geleentheid om tyd saam met die inwoners deur te bring en die vriendelikheid van die personeel te ervaar.
“Ons weet baie bejaardes word sonder kinders of familie agtergelaat om na hulle om te sien. Daarom is dit vir ons belangrik dat hulle toegang tot hul basiese benodigdhede het,” sluit sy af.