Vincent deel sy fiksheidsgeheime as taaiste brandweerman
Krugersdorp se Vincent Naudé neem al vyf jaar aan Toughest Firefighter Alive-kompetisies deel en onthul hoe CrossFit, gesonde eetgewoontes en spanwerk hom fiks hou.
Wanneer Vincent Naudé (35) sy brandweertoerusting aantrek, moet sy liggaam gereed wees vir veel meer as net ’n oefensessie. As nooddienstebeampte en deelnemer aan die Toughest Firefighter Alive-kompetisies (TFA) weet hy hoe belangrik krag, uithouvermoë en fiksheid is – daarom maak hy dit ’n prioriteit om byna elke dag te oefen.
Vir Vincent is fiksheid belangrik vir beide sy gesondheid en sy werk. Hy doen byna daagliks CrossFit en gebruik sy nagskofte om TFA-oefeninge by die brandweerstasie te doen.
Volgens hom help die oefeninge hom met alledaagse werksaktiwiteite, soos om swaar voorwerpe op te tel en brandslange op te rol.
Vincent volg nie ’n streng dieet nie, maar glo daarin om gesond en eenvoudig te eet. Hy beskryf CrossFit as ’n kombinasie van kondisionering, intensiewe oefening en gewigsoefening.
Hy beklemtoon ook die belangrikheid van spanwerk en sê sy afrigter en span speel ’n groot rol in sy prestasies. Vincent moedig ander aan om ’n gesonde leefstyl te volg en glo motivering begin op ’n geestelike vlak.
“Ek bid voor al my oefeninge en kompetisies,” sluit hy af.
