Local news

Kyk: Keagan vat die Bok-gees TV toe

Keagan Croukamp is gereed om die Bokke teen die All Blacks te ondersteun en glo rugby bring Suid-Afrikaners bymekaar.

Suid-Afrika loop voor in die Rugby’s Greatest Rivalry-reeks teen die Nieu-Seelandse All Blacks, en een van die Springbokke se jongste en grootste ondersteuners is die negejarige Keagan Croukamp van Laerskool Krugersdorp-Noord.

Met die rugbygees wat behoorlik hoog loop, is Keagan, saam met talle ander Suid-Afrikaners, vol vertroue dat Rassie Erasmus en Siya Kolisi se span die reeks sal wen wanneer die twee spanne mekaar op 12 September in Baltimore, VSA, pak.

Hy voorspel dat die Springbokke die All Blacks met 10 punte sal klop en hoop die Bokke druk baie drieë, maar terselfdertyd hul verdediging opskerp.

Volgens sy ma, Elaine, was Keagan op 5 September ’n mini-aanbieder tydens die regstreekse uitsending van die derde toets.

“’n Mini-aanbieder is iemand wat help om ’n sportwedstryd vir mense op TV interessant te maak. Keagan eet, slaap en droom rugby, en hierdie was vir hom iets spesiaals,” het sy gesê.

Sy vertel dat Spur hom raakgesien het vir sy groot liefde vir rugby nadat hy as gelukbringer vir die Sharks en WP uitgehardloop het. Hy is toe gekies om as mini-aanbieder op TV te verskyn.

“Omdat ek nog jonk is, word ek ’n mini-aanbieder genoem. Ek het die kans gekry om tydens die Springbokke en All Blacks se rugbywedstryd vir SuperSport te help. Ek kon voor die kamera praat en vrae vra. Ek moes ook mooi luister na wat mense sê en probeer om gemaklik en selfversekerd voor die kamera te wees,” vertel Keagan.

“As ’n mini-aanbieder moet jy weet wat in die rugby aangaan en jy moet nie bang wees om voor baie mense te praat nie. Jy moet ook vinnig kan dink as iemand jou iets vra wat jy nie verwag het nie.

“Vir my was dit baie spesiaal, want ek is mal oor rugby en ek kon iets doen waarvan ek baie hou. Ek het ook geleer hoe dit agter die skerms van ’n regte TV-program werk.

“Ek dink ’n mini-aanbieder is soos om ’n klein sportjoernalis en TV-aanbieder te wees. Dit was vir my ’n groot avontuur en ek sal dit nooit vergeet nie,” voeg hy by.

Keagan glo ’n mens moet trots wees op Suid-Afrika en jou land tydens rugby ondersteun.

“Wanneer ek rugby ondersteun, voel ek trots wanneer ons Springbokke speel, want hulle verteenwoordig ons land. Suid-Afrika is ’n rugby-mal nasie,” vertel hy.

Hy ondersteun die Bokke ook omdat baie van sy helde van die Stormers deel van die Springbokspan is. Cheslin Kolbe is natuurlik sy grootste held.

Volgens Keagan bring rugby mense bymekaar, waar almal saam vir hul span juig en dieselfde opgewondenheid deel. Dit laat mense voel asof hulle een groot span en familie is.

“Die Springbokke is die beste in die wêreld omdat hulle al vier wêreldbekers gewen het. My grootste droom is dat ek eendag vir die Springbokke as haker kan speel en soos Schalk Burger en Steven Kitshoff as kommentator kan praat,” sluit hy af.

Kyk die video hier:

@caxton.jhbwest Keagan Croukamp, ’n trotse Springbok-ondersteuner van Laerskool Krugersdorp-Noord, het op 5 September as mini-aanbieder by die Spur verskyn tydens die regstreekse uitsending van die derde toets. Suid-Afrika het die wedstryd met 29–24 gewen. #fyp #springboks #rugby #bokke ♬ original sound – Caxton JHB West

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Heinrich Greyling

Heinrich Greyling is a LLB student, which gives him an eye in fairness towards everything he writes about, with a passion of uncovering the truth. If the relevant information is available, he is willing to help anybody, with a keen interest in hard, crime, entertainment, municipal, human interest and automotive journalism. He is a journalist who is willing to write about anything, no matter the controversy or risks involved.
Back to top button