Hy plant vir ’n beter môre
Lawrance Mabnungani het ’n klein groentetuin op ’n middelmannetjie in Noordheuwel in ’n belangrike bron van inkomste omskep.
Wat vir motoriste bloot soos ’n klein groentetuin op ’n middelmannetjie in Bellstraat lyk, is vir Lawrance Mabnungani ’n bron van inkomste, trots en hoop op ’n beter toekoms.
Die 55-jarige is al sedert Oktober 2024 besig om die stukkie grond in Noordheuwel te bewerk. Deur reën of sonskyn is hy gereeld daar te sien waar hy sy plante versorg en die area netjies hou.
Met nie veel meer as sy kennis en ‘n gieter nie, het Mabnungani begin om ‘n verskeidenheid groente te kweek, van spinasie tot kool. Die opbrengs verkoop hy aan mense in die omgewing om ’n inkomste te verdien, terwyl hy ook van die groente self gebruik.
Die groentetuin het intussen sy hoofbron van inkomste geword.
“Ek geniet dit geweldig om groente te plant en my groentetuin netjies te hou en skoon te maak,” sê Lawrance.
Sy pogings het ook die aandag van die plaaslike gemeenskap getrek.

Op 5 Augustus is op die Krugersdorp Network Community-Facebook-groep berig dat Lawrance ’n smouspermit van Mogale City ontvang het. Volgens Aldyn Brent het verskeie gemeenskapslede hom finansieel gehelp om onder meer sy identiteitsdokument en smouspermit te bekom.
“Dankie aan elke persoon wat Michael [Lawrance] ondersteun om selfversorgend te word deur geld, kos, klere, plante, kompos en groot plastiekbottels vir water en herwinning te voorsien,” het Aldyn in die plasing geskryf.
Wat as ’n klein tuin langs ’n besige pad begin het, het dus vir Mabnungani in iets veel groter ontwikkel – ’n manier om vir homself ’n inkomste te skep en meer selfversorgend te word.
