Sun ’n Fun laat Krugersdorp opstyg
Die Jack Taylor Vliegveld was drie dae lank die bymekaarkomplek vir vlieëniers, lugvaartentoesiaste en die publiek.
Die Krugersdorp Vliegklub se Experimental Aircraft Association (EAA) Chapter 973 se Sun ’n Fun-geleentheid het van 24 tot 26 September by die Jack Taylor Vliegveld plaasgevind en talle lugvaartentoesiaste gelok.

Volgens Charmaine Venter, klubsekretaresse, was die EAA die hoofgasheer van die geleentheid, wat onder meer seminare, werkswinkels en verskeie aktiwiteite vir vlieëniers ingesluit het.
Vlieëniers en besoekers van ander klubs kon ook op die terrein kamp as deel van die ‘Flamping – Camp Under Your Wing’-ervaring.

Die geleentheid was oop vir die publiek, met Saterdag as die hoofdag. Besoekers kon verskeie vliegtuie en helikopters besigtig, vliegdemonstrasies bywoon en optredes deur plaaslike kunstenaars Mia en Stofpad geniet.

Venter beskryf Sun ’n Fun as ’n viering van lugvaart wat vlieëniers, lugvaartentoesiaste, uitstallers en die publiek bymekaarbring.

Volgens haar was dit een van die grootste geleenthede wat die klub tot dusver aangebied het en was dit ’n groot sukses.
