Proties se toneelsterre skitter op die verhoog
Van brontoekennings tot 'n gesogte individuele titel – Proties se toneelgroepe het rede om trots te wees.
Laerskool Protearif se junior- en senior-toneelgroepe het onlangs uitstekende prestasies tydens die Allegretto Kunswedstryd en die ATKV Tjokkertoneel behaal.
Die skool se kultuurorganiseerder, Ilse Breedt, het gesê die senior-toneelgroep het op 20 Julie aan die Allegretto Kunswedstryd deelgeneem, die juniorgroep op 24 Julie en albei groepe op 22 Julie aan die ATKV Tjokkertoneel. Die Allegretto Kunswedstryd is in Springs aangebied, terwyl die ATKV Tjokkertoneel by die Unisa Little Theatre in Pretoria plaasgevind het.
Sy noem dat hul junior-toneelgroep, onder leiding van juffrou Ella Steinmann en juffrou Talitha Theunissen, bestaan uit graad vier- en vyf-leerders. Hul senior-toneelgroep, onder leiding van juffrou Tia Goosen en juffrou Marlizette Jordaan, bestaan uit graad ses- en sewe-leerders. Albei groepe het aan die kompetisies deelgeneem en albei het ‘n algehele brontoekenning ontvang.
Volgens Ilse is Dian de Waal van die seniorgroep en Zander Jordaan van die juniorgroep vir die Beste Akteur-toekenning benoem. Zander het uiteindelik die ATKV se Beste Tjokkerakteur 2026-toekenning vir die Gauteng-streek gewen. Die skool se toneelgroepe is ook vir die Beste Tegniese Span-toekenning benoem.
“Ons skryf ons leerders in sodat hulle blootstelling kan kry, kan ontwikkel, groei en pret kan hê,” het sy gesê.
“Toneel is ‘n liefde en passie. Ons leerders leef toneel,” het sy afgesluit.
