40 jaar later: Die Bastion-klas van 1986 is weer saam
Voormalige Hoërskool Bastion-leerders van 1986 het ná 40 jaar na hul alma mater teruggekeer vir ’n spesiale matriekreünie.
Herinneringe en nostalgie het op 3 Oktober gevloei toe Hoërskool Bastion se 1986-matrikulante vir hul 40ste matriekreünie by hul alma mater bymekaargekom het.
Volgens groepwoordvoerder Marius Beytell het sowat 40 oud-Buffels en hul gades die geleentheid bygewoon. Die meeste was deel van die eerste groep leerders wat vanaf standerd ses tot matriek by Bastion was.
Marius sê die reünie was ’n geleentheid om ou vriendskappe te vier en herinneringe aan hul skooldae te deel.
“Dit was baie goed om mekaar weer te sien en die ‘goeie ou skooldae’ te kon herdenk,” sê hy.
Die groep het ook deur die skool se gange gestap, wat vir baie ’n nostalgiese terugblik op hul skooldae gebied het.
Volgens Marius beplan die groep om voortaan meer gereeld bymekaar te kom.
