
Met ‘n tikkie onsekerheid in my hart, nadat ek klagte op klagte in die koerant gelees het oor Dr Yusuf Dadoo Hospitaal was daar geen ander keuse vir my dogter as om daar geboorte te skenk aan haar eerste kind, waarvan ek die trotse ouma is, so op die laaste dag van 2014.
Hy is om 9.30vm op 31 Desember gebore.
Ek wil my dank uitspreek teenoor elke persoon betrokke van die oomblik dat ons daar aangekom het – van die sekuriteitspersoneel by die ingang, sekuriteitspersoneel op die hospitaalgronde self, ontvangspersoneel, elke suster, verpleegster, assistent tot en met die skoonmakers. Die diens wat ons gekry het was verby goed gewees.
Van personeel wat jou wys en verduidelik waar presies jy kan parkeer, tot ontvangspersoneel wat jou direk na die kraamsaal verwys, tot en met die kraamsaalpersoneel was vriendelik, bedagsaam en behulpsaam. Dit was nuut vir my, en my baie vrae is baie behulpsaam en met geduld beantwoord.
Ek het lanklaas sulke suksesvolle, streng sekuriteit gesien wat toegepas word, sonder dat onderskeid tussen enige besoekers getref word.
Gistermiddag was ons seuntjie se geelsugtelling uitermate hoër as die aanvaarbare telling. Nadat ons verskeie ander opsies probeer het, is ons gisteraand net voor 11nm WEER Paardekraal (Dr Yusuf Dadoo) toe.
Hierdie keer na die ongevalle-afdeling – waar alles netjies en skoon was. Ek het beleef hoedat ‘n buitelandse dokter – ‘n groot man met ‘n ernstige, moeë gesig, op sy knieë langs die ongevallebed staan en omtrent 40 minute lank spook om ‘n druppie in ‘n vyf-dae-oue babatjie se armpie te kry. Sy deernis en geduld nadat hy reeds ure aan diens was het my verslae gelaat. Hoe hy ‘n aar gekry het, weet net hyself, vir my het dit onmoontlik gelyk met sulke klein armpies waarin daar nie eers ‘n teken van ‘n aar sigbaar is nie! Die suster van die kindersaal wat hom kom help het, het heeltyd die piepklein handjie vasgehou, en ek het haar keer op keer hoor sê, “Sorry baby, sorry baby”.
Gabriel is opgeneem, waar hy nog heeltyd in die broeikas onder die blou ligte lê. Sy druppie is ‘n rukkie gelede uitgehaal.
Ek weet nie hoe ek en my kinders ooit ons dank teenoor die hospitaal en al die betrokke personeel sal kan oordra nie.
Dit het my maak dink dat die gesegde van dit wat jy gee, dit is wat jy terugontvang tog gewig dra. Voor ons so vinnig is om oor als te kla, moet ons dalk na ons eie houding kyk. As ons dalk bietjie meer menslikheid betoon, sal ons dit dalk ook in dubbele maat terugontvang.
