BlogsOpinion

Soek liewer die wortel van die kwaad

As dit nie was vir die plakker wat agterop dié taxi was nie sou ek heel moontlik meer in die beeste wat my al lekkend aangluur, geïnteresseerd gewees het.

“Is hulle nou heeltemal gek?”

Dit is die eerste gedagte wat soos ‘n witwarm vlam binne-in my brand toe ek onlangs lees oor ‘n voorstel van die regering om onder andere die spoedbeperking in stedelike gebiede van 60km/h tot 40km/h te verminder.

Nadat ek ‘n bietjie afgekoel en begin nadink het oor die penarie waarin die regering vir seker sit, veral met die stygende getal ongelukke, kan ek steeds nie met hulle saamstem nie.

Ek dink nie die probleem lê heeltemal by die spoedbeperking van 60km/h nie, maar wel by padgebruikers wat hulle – jammer vir die benaming – soos padvarke gedra.

Ons kan sommer begin by taxibestuurders. Net om daardie woord te noem is amper soos om iemand te vloek, want daarna is almal woedend.

Dit is geen geheim nie dat taxibestuurders seker die roekeloosste bestuurders op ons land se paaie is. Hulle vleg deur verkeer, druk sommer voor jou in, maak hulle eie padreëls en die ergste is, dit is húlle wat meestal op die paaie jaag en dan ongelukke veroorsaak!

Terwyl ek op die R28 verby Silverstar ry, sien ek hierdie taxi (sien foto) wat noodgedwonge voor my ook by die rooi verkeerslig moes stilhou. As dit nie was vir die plakker agterop dié voertuig nie, sou ek heel moontlik meer in die groot vragmotor met die beeste daarop, wat my al lekkend bekyk het, belangstel het.

Don’t come too close as this taxi stops anytime and anywhere staan daar geskryf en dadelik word ‘n mens kwaad, want nou wonder jy of die taxi net sy noodligte gaan aanskakel (soos hulle reeds sonder waarskuwing doen) en doodluiters botstil voor jou gaan óf om passasiers op óf af te laai.

Eintlik moet ‘n mens jou hoofligte aanskakel en duim in die lug vir hom dankie sê vir sy bedagsaamheid om jou in te lig dat hy te eniger tyd voor jou gaan stop.

Dit skep klaar ‘n gevaarlike situasie, want wat gaan gebeur as ek of dalk ‘n groter voertuig in hierdie taxi vasry omdat ons nie genoeg tyd gehad het om te stop nie?

Soms wonder ek of taxibestuurders enigsins omgee oor hul passasiers se veiligheid. Sonder passasiers en ‘n voertuig kan hulle seker ook nie meer funksioneer nie.

Mens lees gereeld van sulke botsings en ek het self al so ‘n ongeluk gesien gebeur toe ‘n taxibestuurder ‘n rooi verkeerslig probeer verontagsaam het en met ‘n bakkie gebots het wat by die rooi verkeerslig stilgehou het.

So, liewe regering, ek dink die fokus moet eerder op taxi’s geplaas word wat steeds teen ‘n hoë spoed gaan jaag om soveel moontlik passasiers te kan vervoer terwyl die res van ons ‘n uur of twee vroeër sal moet opstaan om teen ‘n slakkepas teen 40km/h werk toe te ry om betyds probeer wees.

Ek dink dan gaan meer mense hul voertuie by die huis los en langs die pad staan om ‘n saamrygeleentheid in ‘n reeds oorvol taxi te probeer kry, om darem steeds betyds en sorgvry by die werk aan te kom. Mens moet net onthou om jou oë vir die duur van die rit toe te knyp!

Wil jy meer lees oor my avonture in Krugersdorp? Kyk dan hierna:

‘n Wandeling met die dooies

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 435 3799.

Maak seker dat U kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Roodepoort Record en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button