
Laat my toe om op Bekommerde Inwoner van Mogale City se skrywe te reageer.
Ek kan u die versekering gee dat om op TV te verskyn nie beteken dat die DA in Johannesburg beter doen as in Mogale City nie.
Ons het voor die tyd geweet dat niks sal verander nie want beloftes en doen is twee verskillende optredes.
Ek en verskeie besighede in Industria het eerstehandse ondervinding waar die DA vanaf die topbestuur net skouers optrek en geen hulp aanbied nie. Skuif net die verantwoordelikheid van die een na die ander. Ek kan name noem en sms- en WhatsApp-boodskappe wys maar dit sal niks help nie.
Kom besoek gerus Springbokstraat en dan sal u sien TV-optrede is ook maar ‘n vals beeld.
Alles wat u van Mogale City skryf is waar, maar Johannesburg Metro is erger en ek kan u verseker dat dit nie sal verbeter nie.
Vyf-en-vyftigmiljoen mense is bang vir Jacob Zuma. Die regering is bang vir die massas.
Tien persone jaag dertigduisend mense uit hul woonplek na die stadsaal om te protesteer en te eis.
