
Na die beweerde ‘rot’-voorval by die privaat hospitaal wil ek graag die volgende onder die publiek se aandag bring.
My vader is ‘n bejaarde van 86 jaar. Hy is op 21 Desember 2015 in die hospitaal opgeneem waar hy in die vroeë oggendure van 27 Desember deur ‘n medepasiënt aan die keel gegryp en gewurg is. Hy het tydens die voorval geslaap en is onverhoeds betrap.
Hy het die roepknoppie in sy hand gehad, daarom kon hy hulp bekom anders sou hy gesterf het.
Die hospitaal het nie die voorval aan ons, sy vrou en kind, geopenbaar nie en het hom bloot na ‘n ander saal geskuif.
My vader het ons self van die voorval vertel. Hierdie voorval is bevestig deur ‘n hospitaalpersoneellid. Die nagbestuurder was ook bewus van die voorval. Ons is meegedeel dat die ander pasiënt ‘n psigiatriese pasiënt was wat onder toesig moes wees, maar wat tydens die voorval sonder toesig was. Aangesien die hospitaal nie voldoen het aan sy etos van pasiëntsorg nie, is die voorval gerapporteer.
Tot op datum het ons geen terugvoering ontvang om te bevestig of enige stappe geneem is ten opsigte van die personeel wat versuim het om hulle pligte na behore na te kom nie. Die hospitaal het nie eers ‘n amptelike verskoning uitgereik nie.
In verdere korrespondensie is die hospitaal verwittig dat die voorval by die media aangemeld sou word, waarop ons geen terugvoering ontvang het nie.
Na die voorval en die hospitaal se onbetrokkenheid is die enigste afleiding wat ek kan maak dat bejaardes en pasiëntsorg in sekere sale by die hospitaal nie ‘n prioriteit vir die verpleegpersoneel of die bestuur is nie.
* Eugene Ferreira, hospitaalbestuurder by Netcare Krugersdorp Privaat Hospitaal, gee terugvoering:
Die hospitaal het ten volle met die polisie saamgewerk in hierdie ondersoek en sal voortgaan om dit te doen, indien nodig. Ons mag geensins enige inligting oor hierdie saak, sowel as die pasiënte betrokke, bekend maak nie. Dit is in ooreenstemming met die voorskrifte van vertroulike mediese inligting.
Ek wil graag weer vir die familie van die betrokke pasiënt om verskoning vra as hulle gevoel het die hospitaal nie voldoende in hulle kommunikasie met hulle was nie. Die hospitaalbestuur was in daardie stadium nie in die posisie om terugvoering te gee oor enige aspek van die saak nie. Dis nie te sê die bestuur het nie omgegee nie, dit was omdat dit die bestuur se beste bedoelings was om die integriteit van die ondersoekproses te beskerm.
Ek het intussen oorgeneem as die bestuurder van die hospitaal en wil die gemeenskap gerusstel van ons onwankelbare toewyding om die beste kwaliteit sorg vir ons pasiënte te gee.
