LettersOpinion

Moet ons ook tot betogings oorgaan?

JJ White van Krugersdorp-Wes skryf:

Ons sukkel reeds geruime tyd om die bome wat op die sypaadjies in Herbertlaan groei te laat snoei, spesifiek die bome vanaf Luipaardstraat in die rigting van Tarlton. Dié bome is laas in 2011 gesnoei toe mnr Lotie Hurter nog wyksraadslid was. Ek het ook geruime tyd gelede ‘n skrywe aan die News gerig rakende die aangeleentheid.

My buurman (wat terloops in diens van Mogale City Munisipaliteit is) het kort voor die 2016 munisipale verkiesing ‘n versoek tot die Parke Afdeling gerig om die bome in Vorsterstraat sowel as Herbertlaan te snoei.

Sy woorde was skaars koud toe is daar aandag aan sy versoek gegee alhoewel slegs die bome in Vorsterstraat gesnoei is. Dié bome is ook in 2014 gesnoei. Daar is ook die belofte gemaak dat die bome in Herbertlaan gesny sou word. Weereens ‘n vals belofte met ‘n gepaardgaande boetie-boetie benadering toe daar slegs aandag aan Vorsterstraat se bome gegee is. Die vraag ontstaan of ons ook munisipale amptenare moet word voordat aandag aan versoeke gegee word?

Die takke van die bome in Herbertlaan groei so welig dat dit ‘n gevaar vir verkeer inhou. Geartikuleerde voertuie moet oor die middel van die straat beweeg om te verhoed dat van die takke hul voertuie of sleepwaens beskadig.

Dit hou voorts die gevaar in dat voertuie uit die teenoorgestelde rigting moet stilhou en wag vir die geartikuleerde voertuie om terug in hulle baan te beweeg om sodoende botsings te voorkom. Sommige van die welige takke wat gevaar inhou is reeds afgekap en op die sypaadjie geplaas om verwyder te word. Die takke lê steeds daar en word nie verwyder nie.

Voorts baat dit ook nie om die probleem onder die aandag van die huidige wyksraadslid te bring nie. Trudie Naudé het kort na die munisipale verkiesings dit onder sy aandag gebring, sonder enige sukses.

Die onderlinge twis tussen die verskillende politieke partye kry tans voorkeur met beloftes dat daar spoedig aandag aan verskeie aspekte gegee sal word. Weereens leë beloftes. Moet ons ook tot betogings oorgaan (soos om buitebande te verbrand om strate te blokkeer) om daadwerklike resultate te verkry?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button