
BC Le Roux van Krugersdorp-Noord skryf:
Hoe arrogant van Mogale City se Plaaslike Raad om weereens tariewe te wil verhoog. Hoe hoër die poste, hoe groter die korrupsie en die ongemagtigde uitgawes.
Eintlik behoort daar geen verhoging te wees nie, want daar word nie veel gedoen nie. Elke jaar word daar net minder en minder gedoen en meer geld moet gegee word. Die rede wat aangevoer word is dat dit so geërf word van die voriges wat in beheer was. Ja, iemand moet die skuld kry. Onbevoegde personeel ontvang buitensporige salarisse wat nie die saak regverdig nie. Die raad verwag van ons om die agterstallige skuld te help afbetaal deur tariewe te verhoog.
Die dorp is vuil en die water se gehalte is swak. Die begraafplaas was ‘n maand gelede in ‘n verwaarloosde toestand – dalk nog steeds. Strate is ook nie wat wonders nie. Dit is tyd dat daar in die argiewe foto’s gesoek moet word van die verlede om ons te wys hoe die agteruitgang ons oorval het. Die waarheid is maar ‘n taai toffie of hoe?
Politieke partye sal natuurlik met slim antwoorde kom om die teendeel te bewys en om die tariefverhoging te regverdig. Het dit nie tyd geword dat ons ons menseregte opeis nie?
