
Ek wil kontant by ‘n OTM onttrek. Die OTM sluk die kaart . Ek kontak dadelik die verlore kaart-afdeling en die kaart word dadelik nadat hy gesluk is gekanselleer.
Net toe ek klaar is met die oproep kry ek ‘n SMS van ‘n transaksie wat met my kaart by ‘n bekende handelaar gedoen is en my met omtrent niks los nie. Ek verlaat toe die OTM en kontak weer die verlore kaart-afdeling en ‘n bedrogsaak word geopen.
Ek vra onder andere hoe so iets kon gebeur. My kaart is iewers gebruik, maar wat van die PIN-kode en dit alles sonder die kaart self? Ek, soos baie ander, hou my limiet laag vir as so iets gebeur of as ek gedwing sou word om ‘n transaksie te doen.
Die persoon sê toe vir my dat die PIN-kode, die kaart en die limiet net ‘n foefie is want vir die kuberkrakers is dit geen moeite om dit alles te omseil nie. Die kaartstelsel is vir ons baie gerieflik maar met die nuwe tegnologie is dit net so maklik vir die kuberkrakers.
Die kaart en PIN-nommer word nie benodig nie. Dit wil vir my voorkom net jou geboortedatum is belangrik . Ek gaan bank toe vir advies en kry die nuus dat mens se fondse op jou kaart glad nie gewaarborg is nie.
Geen kaartstelsel is meer veilig nie. Met ‘n gesukkel kry ek na 14 werksdae weer die kaartbedrogafdeling in die hande en ek vra hoekom hulle so lank vat. Toe kry ek die nuus dat kaartbedrog verdriedubbel het die laaste paar weke en dat hulle nie kan voorbly met die ondersoeke nie.
Ons almal gebruik ‘n bankkaart. Daar is niemand wat daarsonder kan klaarkom nie.
Dit lyk vir my ons kaartgebruikers het groot moeilikheid op hande. Of was dit alles net ‘n fout wat ingesluip het? Indien wel, hoe?
