
Krugersdorp se mense is hartsmense, mense met integriteit, warmte, omgee en menslikheid.
Almal in die dorp en in groot dele van die land het kort nadat die sekuriteitswag op Donderdagoggend, 17 Mei, voor Die Boomhuisie doodgeskiet is, daarvan geweet. Die media was ook gou op die toneel.
Die Boomhuisie se telefone het onophoudelik gelui terwyl vriende, familie en baie kliënte hul na die toneel gehaas het om te help. Selfs familielede uit die Vrystaat, Irak en Kaapstad het gebel.
Mense het gehelp met aankope, ander het gaste ontvang, terwyl personeel te midde van die chaos alles probeer bymekaar hou het.
Ons wil aan elkeen wat kom help het, en vir die oproepe en gebede, dankie sê. Dankie ook aan die polisie, ambulansdienste, sektorpolisie en senior personeel van Bhekani Abantu wat dadelik op die toneel was. Ons waardeer dit opreg.
Vir Krugersdorp se inwoners wat gereeld hier kuier, dankie dat julle verstaan en omgee. Kom kuier gerus weer.
