Die Krugersdorpse Stapklub gaan van Februarie af net een staptog ‘n maand aanbied.
Die roete vir Februarie, Peledingwe word op 8 Februarie aangebied.
Hierdie roete is by die Krokodilrivier in die Broederstroom-omgewing. Dit is ‘n boomryke roete met slegs oop kolle op die hoë koppies en die draai van die rivier vêr onder die koppe. Die staproete bo-op die koppe loop saam met die rivier se kronkels. Dit is ‘n baie lekker roete, ongeveer 10km lank, maar kan plek-plek nogal baie ruig wees, veral na die reëns. Die roete begin en eindig op die geskiedkundige Preller-plaas, en die ou familiebegraafplaas is een van die besienswaardighede op die terugtog.
Die opstal is ‘n nasionale monument waar die bekende Eugene Marais ook sy laaste jare deurgebring het. Dit is ook deur die voormalige Atoomenergiekorporasie in die 1980’s en 1990’s gebruik as restaurant waar hoogeplaaste besoekers dikwels onthaal is. Die huis staan tans leeg, maar daar word gewoonlik ‘n bring en braai na afloop van die stap gehou.
Vir Maart bied die klub die roete by Shelter Rock (Fourierus) op 8 Maart aan.
Shelter Rock is aan die hange van Magaliesberg geleë op privaat grond, omtrent 55km van Krugersdorp in die Skeerpoort-omgewing, net verby Hekpoort.
Die enigste knopkierrie gholfbaan in die wêreld is ook hier geleë. Dit is werklik ‘n pragtige roete, daar word teen die berg uit gestap, tot op die kruin vanwaar die mynhope (die wat nog bestaan) van Krugersdorp op ‘n mooi skoon oggend gesien kan word.
Die uitsig hier van die kruin af is asemrowend mooi, selfs ‘n gedeelte van die Hartbeespoortdam kan gesien word. Daar word ook baie gemaklik op die kruin gestap, en met die afstap is dit plek-plek effens steil, maar nêrens is dit gevaarlik nie. Na die stap word daar gewoonlik ‘n braai gehou.
Vir verdere besonderhede kan Babsie by 083 544 1102 of Phillip by 083 788 4555 geskakel word.
