Tennisverslaafde word tennisster
Reeds van kleins af het die wêreld van tennis 'n leerling van Hoërskool Noordheuwel betower.
Sy was nog ‘n klein dogtertjie toe die wêreld van tennis haar betower het.
Sumari Venter, ‘n leerling van Hoërskool Noordheuwel, het van kleins af reeds ‘n belangstelling in tennis getoon toe sy voor die kassie ingeskuif het sodat sy die tennissterre se vinnige hand- en voetbewegings kon dophou wanneer hulle die tennisballe heen en weer slaan.
“My ouma het my vir tennislesse ingeskryf en toe hulle sien dat ek oor baie goeie hand-oog-koördinasie beskik het my kleuterskooljuffrou my ook aangemoedig om aan te hou en ‘n uitblinker te wees.”
Vandag beklee sy die 66ste plek op die Suid-Afrikaanse tennisranglys in die dogtersafdeling. Sy is ook vierde op die ranglys vir dogters onder 16 jaar in Gauteng en vir haar is dit genoeg motivering om sien hoe sy haar doelwitte bereik.
“Ek wil graag onder die top 10 eindig voordat ek na die volgende ouderdomsgroep oorskuif,” sê die jong ster wat inspirasie uit die spel van Victoria Azarenka, ‘n professionele Belarussiese tennisspeler put.
“Sy het in ‘n baie kort tydjie sukses behaal en ek hoop om eendag in haar voetspore te kan volg om op Wimbledon te kan speel.”
Sumari spog ook nie graag met al die trofees en medaljes wat sy deur die jare verower het nie, al word dit in haar ma Retha se vertoonkas gebêre.
“Ek het van my laerskooldae af elke jaar ‘n trofee vir beste tennisspeler in die skool ontvang wat ook na die hoërskool oorgespoel het, waar ek ook sover nog elke jaar die beker ontvang het.”
Sy sê dat sy verskeie toernooie gewen het wat deur die Suid-Afrikaanse Tennisvereniging aangebied is. Die wenners is met geskenkbewyse of medaljes beloon.
Vir haar dien hierdie toekennings as ‘n bewys dat al haar harde werk nie tevergeefs is nie.

“Dit beteken dat ek die resultate van my al harde oefening en die tyd saam met vriende wat ek opgeoffer het, kan sien.”
Sy is verlede jaar genooi om aan die D2 Tennisstreekproewe in Pretoria deel te neem waar sy ‘n tweede plek losgespeel het. Sy het Gauteng in Desember in Bloemfontein verteenwoordig waar daar teen al die ander provinsies gespeel is.
Hier is sy as die kapteine van die dogterspan gekies, wat al hulle wedstryde gewen het en met goud weggestap het.
Maar wanneer Sumari nie haar tyd aan tennis wy, kuier sy graag saam met vriende, speel Playstation en fokus daarop om akademies te presteer.
Sy vertel dat haar gesin baie trots is op alles wat sy tot dusver bereik het.
“My sussies is seker my grootste ondersteuners tydens al my wedstryde.”
Sy noem dat haar suksesse ook aan al haar afrigters te danke is en bedank hulle vir al hulle opofferings.
