Atleet maak opslae in Kameroen
Krugersdorp en Suid-Afrika is deur Chery-Lee Schoeman by die Afrika Landloopkampioenskappe in Kameroen verteenwoordig.
Krugersdorp se landloopster het op 12 Maart by die Afrika Landloopkampioenskappe Suid-Afrika en die KPMG-span verteenwoordig.
Chery-Lee Schoeman (17) het aan die junior kategorie saam met van die wêreld se beste atlete deelgeneem en het algeheel 22ste geëindig.
Chery-Lee, wat deur Franco Oosthuizen afgerig word, het op Woensdag 9 Maart vertrek na Kameroen in Wes-Afrika om deel te neem aan die kampioenskappe.
“Sy was die vierde Suid-Afrikaner wat klaar gemaak het,” het Franco aan die News vertel.
“Die Junior meisies span was derde geplaas, gelyk met Morocco, albei met 72 punte. Maar as gevolg van die plasings van die atlete het die Suid-Afrikaanse junior span afgeskyf na vierde toe,” het hy gesê.
Chery-Lee gaan nou voorberei vir die Spar Ladies-reeks wat op 17 April afskop. Verlede jaar het sy 11de geëindig en hoop om vanjaar onder die top 10 te val.
Lees verder:
Land(voor)loper op pad na Kameroen
