Monnas se Wit Bulle kies hul kaptein
'Die span is sonder twyfel in baie goeie hande. Morné is 'n baie goeie kaptein en speler omdat hy graag deur sy voorbeeld lei' — Afrigter.
Met koppe omlaag en skroppende voorhoewe staan Hoërskool Monument (Monnas) se eerste rugbyspan – ook bekend as die Wit Bulle – gereed vir ‘n nuwe seisoen onder nuwe leiding.
Nadat die voorlopige span vir 2018 gedurende die naweek van 16 tot 18 Februarie ‘n oefenkamp by Konka bygewoon het, is hul nuwe kaptein verkies en aangewys. Dit is niemand anders nie as matriekleerder Morné Brandon.
Verlede jaar het Morné as Graad 11-leerder reeds sy merk gemaak toe hy vir die SA-skolerugbyspan gekies is. Hy het in dieselfde jaar ook opslae gemaak toe hy ‘n derde plek in diskus tydens die Wêreld Jeugatletiekkampioenskappe in Nairobi, Kenya verower het.
By die prysuitdelingsfunksie vir toppresteerders in die Gauteng-Wes Distrik wat vroeër vanjaar plaasgevind het, het dié passievolle atleet boonop die toekenning as Hoërskool-seunsatleet van die Jaar ontvang.
“Die span is sonder twyfel in baie goeie hande. Morné is ‘n baie goeie kaptein en speler omdat hy graag deur sy voorbeeld lei. Dit was ‘n baie ingeligte besluit aangesien hy reeds die respek van al sy spelers verdien het,” het afrigter Tjaart van der Walt vertel.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
