Nories een van net drie skole met die jongste kriekettegnologie
Met hul nuwe binnehuise krieketfasilitiete en tegnologie wat deur internasionale spanne gebruik word, nooi Noordheuwel graag laerskole om deel te neem aan hul opleidingsprojek.
Hoërskool Noordheuwel werk nou al ‘n paar jaar daaraan om moderne, professionele binnehuise krieketfasiliteite daar te stel.
Donderdagaand, 12 September, het die skool al hul borge genooi om dankie te sê vir die rol wat hulle gespeel het om die krieketsentrum ‘n werklikheid te maak.

“Die gebou was eers net deel van die ou tennisbane, maar is laasjaar opgeknap. Ons het nette en ligte binne en buite opgesit en die baan gelê,” het krieketafrigter, Tinie Potgieter verduidelik.
“Ons is een van net drie skole in die land wat Pitch Vision het. Dit is dieselfde apparaat wat televisiekanale gebruik om krieketwedstryde te analiseer.” Pitch Vision gebruik verskeie kameras om ‘n speler se spoed en afwyking te meet. Dit dui selfs aan wanneer en hoe ver ‘n speler van balans af is.
Noordheuwel nooi al die skole, veral laerskole, in die omgewing om gratis by hulle opleiding te ontvang om hierdie toestel en die fasiliteite te gebruik. Skole soos Laerskool Kenmare, Krugersdorp-Noord, Roodepoort en Helderkruin neem alreeds aan hierdie projek deel.

“Ons wou nog altyd ‘n tipe sentrum vir uitnemendheid vestig waar ons ander spelers kan help verbeter. Ons wil verder sterk bande met laerskole bou,” het Tinie verder gesê.
Om die sentrum te help groei, verskaf Black Widow die meeste van die kriekettoerusting en -uitrusting. Nashua Wes-Rand, Hyundai Weltevredenpark en Fourways Aircon voorsien die grootste gedeelte van die fondse wat die skool se krieketdepartement deur die jaar benodig.

