School sportSport

Monnas-krieketdogters wen Gauteng-finaal

Monnas se dogterskrieketspan het onlangs in die Gauteng-finaal met hul opponente klaargespeel.

Die Monnas-dogterskrieketspan het hulle nie laat boelie deur hul opponente nie en het die Gauteng-krieketfinaal teen Leeuwenhof Akademie van Bedfordview gewen.

Die krieketdogters het hul teenstanders op 26 Oktober met nege lopies by Steyn City School geklop.

Die span se kaptein en paaltjiewagter, Temieke Lindes en hul onderkaptein, Mia Kruger, het die loot gewen en besluit om eerste te boul.

Die druk wat hulle op Leeuwenhof se kolwers geplaas het, was van die begin af sigbaar. Dit was veral Sharizma Liebenberg wat beïndruk het toe sy drie paaltjies vir net 12 lopies geneem het.

Chloé Williams en Danièlle Delport het ook drie paaltjies tussen die twee van hulle geneem, en Chané Lemmer het van haar laat hoor.

Op die ou end kon Leeuwenhof 98 lopies aanteken vir die verlies van sewe paaltjies.

Temieke en Mia was die eerste kolwers om teen die Leeuwenhof-boulers te staan te kom, en het sommer vinnig te werk gegaan. Binne die eerste ses kolfbeurte het Monnas reeds 60 lopies aangeteken.

Temieke moes ongelukkig na 28 lopies en 15 balle plek maak vir Nadine Grové, wat nie op haar laat wag het nie. Met die eerste sewe balle wat sy trotseer het, het sy 33 lopies gemoker, waarvan vier baie groot sesse was.

Volgens die span se afrigter, Johan van den Berg, kan die skool, die spelers en hul ouers baie trots wees op hul vertoning.

“Elke dogter het die seisoen 110 persent ingesit en dié oorwinning is ‘n refleksie van al hul harde werk. Ek was al by baie finale betrokke, maar dié een was definitief besonders omrede die dogters vandag so klinies op die veld was,” het hy gesê.

Hy het ook die Leeuwenhof-span bedank vir hul positiewe gesindheid en ‘n pragtige wedstryd. Hy het bygevoeg dat hy en sy medeafrigters, Tyla Brittain en Tegan Smith-Toerien, besonder trots is op elke dogter wat bygedra het tot hul suksesvolle seisoen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button