‘n Nuwe tipe atletiek vir Graad 1’s
Noordskool se Graad 1's het aangetrek soos superhelde om aan hul heel eerste atletiekdag deel te neem. Hulle het spesiale toerusting gebruik wat vir hulle reg was.
Laerskool Krugersdorp-Noord het hul atletiekseisoen vroeg begin met hul eerste huissportdag net drie dae nadat die skool heropen het.
Om dit meer spesiaal te maak het hulle hierdie jaar iets nuut probeer om vir hulle splinternuwe Graad 1’s die geleentheid te gee om op ‘n lekkerder manier aan atletiek deel te neem.

Spesiale ‘hekkies’ van so 40cm hoog is gemaak van dik PVC-pype, spons pyle is gebruik vir spiesgooi, boontjiesakke vir gewigstoot en ‘n lae tou is gebruik vir hoogspring. Die naellope en verspring was die gewone.
Die kompetisie het om 5nm begin om die jongklomp se ouers die geleentheid te gee om ook te kom kyk. Aan die einde van die dag het elke Graad 1 die geleentheid gehad om op die podium te klim en ‘n sertifikaat by skoolhoof Charles Miller te ontvang vir hul uitmuntende deelname. Op die sertifikaat het gestaan: “Jy is ‘n superheld! Geluk met jou eerste atletiekbyeenkoms.”

Atletiekorganiseerder Quintin Botha het genoem, “Daar is verdere uitdunne gehou en die top vier maatjies is gekies om aan vriendskaplike en ook klusterbyeenkomste deel te neem. Hulle vorm deel van die skoolspan.”

