Jacques bereik nuwe sterkman hoogtes
Jacques du Plessis is bewyse dat jy nooit te oud is om jou drome na te streef nie. Op die ouderdom van 37 het hy begin oefen en daarna eers begin aan sterkman-kompetisies deelneem
Rant-En-Dal — Jacques du Plessis is bewyse dat jy nooit te oud is om jou drome na te streef nie.
Hy het eers op 37-jarige ouderdom begin oefen en daarna aan sterkman-kompetisies begin deelneem. Verlede jaar, op 41, het hy aan vyf kompetisies deelgeneem en twee podiumplekke behaal. Maar dit is nog net die begin vir hierdie buffel van ‘n sterkman …
Lees ook: Bodybuilding champs open gym
Twintig-twee-en-twintig was vir Jacques ‘n baie besige jaar en met ‘n kompetisie amper elke twee maande, was daar maar min tyd vir rus. Die sterkman het vertel dat dit tyd was om op homself te fokus en dit is presies wat hy verlede jaar gedoen het.
Hy het ‘n sewende plek by die SA Log and Deadlift kompetisie behaal, ‘n derde plek by die Suid-Afrikaanse kampioenskappe, ‘n derde plek by die Afrika kampioenskappe, ‘n 11de plek by die Gladiator Games en het aan die Arnold Classic ook deelgeneem.
Die voorbereiding vir hierdie kompetisies het ook meeste van sy tyd opgeneem en vertel dat eet naderhand soos ‘n werk begin voel het. Tog het hy bygelas dat jy die goed moet geniet, ‘dit is die belangrikste ding van sulke soort kompetisies’.
Lees ook: When the bodybuilding bug bites
As dit by gewigte kom oefen hy by vriende, want soos hy vertel, hou die gewone gimnasiums nie die gewigte aan waarmee hulle oefen nie. “En hoekom sal hulle?” het hy bygevoeg, “nie almal wil so swaar optel nie”.
Sy gunsteling uitdaging by die kompetisies is die ‘Atlas stones’, ‘n uitdaging wat vir baie jare al baie deelneemers laat swaar trek het. Maar vir Jacques is dit die toonbeeld van sterk wees. As kind het hy na die spesifieke uitdaging op televisie gekyk en vandag kan hy nie net dieselfde uitdaging aanpak nie, maar hy neem ook deel saam met die legendes wat hy eens op ‘n tyd na opgekyk het.
Maar met ‘n besige 2022 agter die rug lyk dit of 2023 dalk net groter dinge gaan inhou en Jacques vertel dat hy ‘n uitnodiging gekry het om die wêreld Arnolds te gaan bywoon in Columbus, Ohio in die VSA van 2 tot 5 Maart.
Daar kan hy aan die amateur’s kategorie deelneem en net 15 van hulle word gekies om deur te gaan na die professionele kategorie. Hy het vertel dat hy net wil gaan deelneem en nie beplan om deur te gaan tot die einde toe nie.
Jacques glo dat mens aan kompetisies soos dié begin deelneem vir jouself maar wil tog vir ander wys dat niks onmoontlik is nie.
Een van die grootste struikelblokke bly steeds om borge te kry en kan een so kompetisie ‘n lelike finansiële gat in die familie se sak ruk. Dus is hy steeds opsoek na borge om hom te help om nog vir die volgende 10 jaar deel te neem. Jacques het vertel dat borge skaars is omdat die sport self nie so bekend is soos ander nie.
“Ek wil ook noem dat alles moontlik is deur my vrou Rhoda wat my so goed bystaan, sy is my grootste ondersteuner.”
Jy kan Jacques op sosiale media volg by Jacques Strongman.
