Blind en talentvol
Witpoortjie Rolbal Klub se blinde span neem een van die dae deel aan die BSA Nasionale Ope Kampioenskappe.
Vanaf 21 tot 28 Mei neem die blinde span rolbalspelers van Witpoortjie Rolbal Klub aan die Bowl South Africa (BSA) Nasionale Ope Kampioenskappe, in Pretoria, deel.
André Manders, een van die spelers in die span vertel die span wat deelneem verander elke jaar, aangesien nie almal altyd die tyd kan afvat van die werk nie. Daar is egter vereistes daaraan verbonde om aan die BSA Nasionale kampioenskappe deel te neem, elke speler moet ‘n BSA nommer hê en aan ‘n rolbalklub behoort.
Al die spelers probeer minstens een keer per maand bymekaarkom om te oefen.
Lees ook: Vroue geniet ‘n rolbaldag net vir hulle
Die spelers werk elkeen saam met ‘n siende persoon wat vir hulle aandui hoe om te speel. Die siende persoon sal vir die speler sê in watter rigting hulle moet gooi en die afstand wat hulle moet gooi.
Volgens André is dit noodsaaklik dat daar ‘n goeie verstandhouding moet wees tussen die blinde persoon en die siende persoon wat help. Hulle moet vertroue in mekaar hê, aangesien dit nie net gaan oor rolbal nie, die siende persoon moet die speler ook help wanneer daar ‘n breuk kans is.
Lees ook: BRIEF: Rolbal nie vir sissies nie
André sê vir hom is dit die grootste uitdaging om tussen al die siende spelers te speel en hulle te wen.
Vir die wat strewe daarna om rolbal te speel sê André: “Glo in jouself en jou helper en vat ‘n kans.”
Volgens Price Myburgh, André se helper, is dit belangrik vir ‘n helper om homself te verbind aan die spel, aangesien hy vir twee mense moet dink en die heeldag vir die blinde speler verantwoordelik is. Hy het ook genoem daar is ‘n tekort aan helpers, aangesien nie almal altyd beskikbaar is nie, dan is dit nodig dat iemand anders moet instaan.
André het ook genoem daar is ‘n wanpersepsie rondom blinde spelers, en dit is vir hom ‘n ‘uitdaging om ander te leer van gestremdheid’. Baie mense is vebaas om te hoor hy bly op sy eie en neem aan verskillende sportsoorte deel, hy ken byvoorbeeld ‘n veerpyltjiebord uit sy kop.
Hy verduidelik hy is tot baie meer in staat as wat ander dink.
