Drie uit drie vir Nories by St John’s-Paastoernooi
Nories het behoorlik stof in die oë van hul opponente geskop tydens die St John's-Paastoernooi.

Hoërskool Noordheuwel het die onlangse St John’s-Paastoernooi gedomineer deur al drie hul kragmetings te wen.
Gedurende die Paasnaweek was dit die 27e amptelike St John’s-Paastoernooi aangebied deur Standard Bank. Dié rugbyfees word as uniek beskou aangesien daar geen pryse of belongs is nie, tog speel o19-rugbyseuns hul harte uit – als in die naam en gees van rugby.

Nories was een van 12 deelnemende skole wat behoorlik stof in die oë van hulle opponente geskop het. Nories het eers gespog met ‘n wegholsege van 52–0 teen ‘n Goue Leeus Uitnodigingspan gevolg deur ‘n soet 40–18 oorwinning oor Kingswood College, en laastens ‘n gemaklike 48–3 oorwinning teen Hoërskool Voortrekker High.
Behalwe dat Nories hulself verbaas het met die uitslae, was dit die eerste keer ooit wat hul met drie oorwinnings by dié toernooi kan spog.

“Ons het uitstekende rugby gespeel en is trots op ons prestasie, maar ons het die potensiaal om te verbeter,” het Botter Lourens, Noordheuwel se sporthoof gesê.

Stuart West, hoof van St John’s College, het almal wat betrokke was, vir hul deelname en betrokkenheid bedank.
Die fees was ook in samewerking met SuperSport, waar die geleentheid op hulle toep uitgesaai was, en op die laaste dag op televisie.