Van Krugersdorp tot die Kaap vir ‘n goeie doel
Ondersteun een van Matla A Bana se grootste fondsinsamelings vir die jaar, die Xtreme For Kids-fietstoer, en maak so 'n verskil in die lewens van seksueel mishandelde kinders.
Matla A Bana is ‘n nie-winsgewende organisasie wie se doel is om seksueel mishandelde kinders by te staan en sekondêre mishandeling te verminder. Op 26 Februarie skop een van hul grootste jaarlikse fondsinsamelingsprojekte af.
Volgens Matla A Bana se projekbestuurder, Lizel van Eeden, staan hierdie fondsinsameling bekend as die Xtreme For Kids-fietstoer waar deelnemers by Laerskool Ebenaeser sal ontmoet en tot by Kaapstad sal ry. Dit begin om 09:00. Fietsryers sal dan aan die Cape Town Cycle Tour deelneem.
“Die toer is van 26 Februarie tot 8 Maart, waar ons by altesaam 15 skole sal stop om bewustheid oor kinderbeskerming, soos kwessies van afknouery, te kweek,” het sy gesê.
Lizel het beklemtoon dat hierdie toer een van hul grootste fondsinsamelings vir die jaar is en dat hulle op borge en skenkings staatmaak.
Indien jy ’n borg of skenking wil maak, kontak Lizel by 073 171 1031.
