Krugersdorp-atlete van byna 60 skole meet kragte
Byna 60 laerskole het aan die Krugersdorp Laerskole-atletiekampioenskappe deelgeneem.
Van Kenmare tot Krugersdorp-Noord en selfs al die pad vanaf Hekpoort; atlete van talle skole in die dorp het onlangs by Hoërskool Noordheuwel bymekaargekom vir die Laerskool Krugersdorp-atletiekkampioenskappe.
Voorsitter van die Laerskool Krugersdorp-atletiekunie, Quintin Botha, het gesê daar was sowat 60 skole wat deelgeneem het.
“Ná die agt Cluster-byeenkomste waar skole se top-atlete teen mekaar meegeding het, het hulle deurgeskuif na die einste Laerskole Krugersdorp-atletiekkampioenskappe. Ons is trots op Krugersdorp se atlete wat puik presteer het,” het Quintin gesê.

“Twee atlete is per byeenkoms gekies wat kortafstande aanbetref en vier per byeenkoms in langafstande. Hulle kwalifiseer nou om hul slag tydens die Gauteng-Wes byeenkoms te wys,” het Quintin bygevoeg.
Hy het afgesluit deur te sê dat die Krugersdorp-atlete volgende teen ander atlete in die Merafong- en Randfontein-omgewing sal meeding. Slegs twee atlete van elke byeenkoms sal later in die seisoen vir die Gauteng-Wes-span gekies word.
