Fietsryers reis 1 900km vir mishandelde kinders
Matla A Bana se Xtreme For Kids-fietstoer het afgeskop waar fietsryers 1 900km gaan aflê van Krugersdorp na Kaapstad.
Om Kaapstad toe te ry is reeds ’n lang rit – verbeel jou hoe uitdagend dit moet wees op ’n fiets!
Matla A Bana is ’n nie-winsgewende organisasie wat daarop gemik is om kinders wat seksuele mishandeling oorleef, te beskerm.
Hul Xtreme for Kids-fietstoer het op 26 Februarie by Laerskool Ebenhaeser afgeskop, en volgens die hoof-uitvoerende beampte van Matla A Bana, Monique Strydom, sal fietsryers 1 900 km aflê tot in Kaapstad. Die doel van die toer is om bewustheid oor kinderbeskerming by skole te skep en fondse in te samel.

“Die fietstoer is in 2013 deur die bekroonde kinderbeskermingsorganisasie bekendgestel. Die aanvanklike doel was om bewustheid te skep oor die lot van mishandelde kinders. Daar is egter besluit om die toer as ’n platform te gebruik om skole in landelike gebiede te besoek waar kinders dikwels nie aan kinderbeskermingsprogramme blootgestel word nie. Dit het die hooffokus van die toer geword,” verduidelik sy.
Verder vertel sy dat die fietsryers vergesel word deur ’n akteurgroep wat by byna 15 skole optree.

Skole in dorpe soos Winnie Mandela, Aberdeen, Willowmore, De Rust en Montagu sal besoek word deur Kaptein Bully Buster, wat daarop gemik is om boelies uit te snuffel en kinders te leer hoe om hulself daarteen te beskerm.
“Tot dusver het die anti-boelieprogram meer as 40 skole in vyf provinsies besoek en reeds meer as 100 000 kinders regoor Suid-Afrika bereik,” voeg sy by.
Die spanleier van die fietsryers, Garth Briggs, sê hy het die toer al drie keer voltooi. Hy beklemtoon verder dat hulle areas besoek waar baie kinders deur mishandeling geraak word.
“Ek het self gesien watter verskil hierdie toer in kinders se lewens maak. Ek weet dit is baie moeilik vir ’n kind wat seksueel mishandel is om daaroor te praat, maar ek moedig julle aan om dit te rapporteer – selfs al is dit moeilik of as jy skaam voel. Jy kan ander mense help,” sluit hy af.
