Blikore bo in Monnas se bulkraal
Voor ‘n skare van byna 10 000 toeskouers het Grey College oorheers in een van Suid-Afrika se grootste derbystryde, met 11 oorwinnings uit 16 kragmetings teen Monnas in Krugersdorp.
Grey College van Bloemfontein het die Wit Bulle van Hoërskool Monument ore aangesit tydens ‘n klassieke wedstryd in die King Price Derby-reeks wat op 21 Maart plaasgevind het.
Volgens Monnas se bemarkingsbestuurder, Belinda du Toit, het ongeveer 10 000 toeskouers deur die loop van die dag op die Ras van Rooyen-veld toegesak om dié spesiale derbystryd by te woon. Sy het bygevoeg dat benewens die 16 wedstryde tussen Monnas en Grey, daar ook 10 ander wedstryde plaasgevind het tussen Hoërskool Riebeeckrand, Hoërskool Bastion en Krugersdorp High School.
Die wedywering tussen Monnas en Grey College is altyd ‘n hoogtepunt op ons rugbykalender.
“Die eerste kragmeting tussen die twee trotse rugbyskole se eerste spanne het in 1984 plaasgevind, waar ons 10-elk gelykop gespeel het. Die Menseregtedag-wedstryd was die 22ste keer wat ons teen hulle koppe gestamp het,” het sy vertel.

Uitslae tussen Monnas en Grey College:
• Monnas o14A 27–25 Grey College o14A
• Monnas o14B 10–27 Grey College o14B
• Monnas o14C 13–12 Grey College o14E
• Monnas o14D 27–27 Grey College o14F
• Monnas o15A 12–32 Grey College o15A
• Monnas o15B 0-43 Grey College o15B
• Monnas o15C 38–5 Grey College o15E
• Monnas o15D 5–15 Grey College o15F
• Monnas o16A 16–31 Grey College o16A
• Monnas o16B 12–64 Grey College o16B
• Monnas o16C 10–10 Grey College o16E
• Monnas 5e span 12–28 Grey College 8e span
• Monnas 4e span 12–18 Grey College 7e span
• Monnas 3e span 7–48 Grey College 3e span
• Monnas 2e span 5–45 Grey College 2e span
• Monnas 1e span 8–47 Grey College 1e span

Ons wil spesiale erkenning gee aan die o14A-span wat vir die eerste keer teen Grey ‘n oorwinning kon behaal. Die manne het hul harte uitgespeel en ons is baie trots op hulle,” het sy bygevoeg.
Met die nederlaag nou agter die rug, het Belinda gesê dat die Wit Bulle weet daar lê harde werk voor.
“Ons is bewus daarvan dat ons verdediging opgeskerp moet word en dat ons lynstane moet verbeter. Hierdie was maar die tweede wedstryd van die seisoen, en die spelers is steeds besig om hul plek in die span te vestig. Daar word ook nog deeglik gewerk aan spankombinasies. Monnas bly egter trots op ons spelers wat karakter gewys het en nooit opgegee het nie. Ons manne sien geweldig uit na ‘n opwindende seisoen wat voorlê.”

Sy het afgesluit deur te sê: “Vrydag was ‘n onvergeetlike dag van uitstekende skolerugby op Monnas se velde. Ons is dankbaar vir die wonderlike ondersteuning deur die hele Monnas-gemeenskap.
Soos altyd was dit ‘n groot kragmeting teen Grey College. Ons het groot respek vir hul spelers en afrigters, en dit is altyd ‘n voorreg om teen hulle te speel.”
